Die Hervormer

Fakulteit Teologie vier eeufees

Op Maandag 6 Maart 2017 is die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Godsdiens en Religie (voorheen Fakulteit Teologie) amptelik geopen met ’n erediens in die Musaion. Die opening was hierdie keer besonder spesiaal, aangesien die Fakulteit vanjaar 100 jaar oud is.

Prof Johan Buitendag, dekaan van die Fakulteit, het tydens die verwelkoming gesê dat die Eeufeeskomitee besluit het op die tema vir vanjaar se feesvieringe, naamlik Oopmaak van die hekke. Die tema is ook simbolies in die oop hekke voor die Teologiegebou verewig. ’n Stel van die oorspronklike houthekke wat jare gelede by die ingange van die Universiteit was, is gerestoureer en voor die Teologiegebou geplaas. Hierdie hekke is oop en mag nie weer toegemaak word nie. Daar is granietblokke voor die oop hekke geplaas sodat dit nie toegemaak kan word nie.

Lees verder...

Sinodale diens en ’n kerkkantoor

Die Dirk van der Hoffgebou en Barton Keep is verkoop. Die Kerkkantoor moet trek, maar waarheen? Wanneer? Die onsekerheid oor ’n nuwe bestemming en wat dit mag inhou, knaag aan elkeen by die Sinodale Dienssentrum.

Die Hervormde Kerk was na die mislukte kerkvereniging van 1885 en die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in ’n baie swak posisie. ’n Handjievol predikante moes die verarmde lidmate van die groeiende getal gemeentes oor ’n wye gebied bedien. Moeisame samewerking tussen gemeentes, beperkte vervoer- en kommunikasiemiddele en ’n gebrek aan finansiële hulpbronne het die Kerk se vermoë om sinodaal dienste te lewer, ernstig gestrem.

Lees verder...

Die Hervormde Kerk – getrou aan ons roeping

Die nadenke en gesprek oor kerkwees in die voetspore van Christus was en is ’n eerlike poging om getrou aan ons roeping altyd weer te hervorm na die eise van God se Woord. Die gesprek oor kerkwees en ’n lewe in die voetspore van Christus kan nooit ophou nie. Dit moet ’n lewenswyse wees.

Hierdie gesprek dring ’n mens tot kritiese selfondersoek. Dit gaan oor ons eie lewe voor die aangesig van God, maar ook die lewe van die Hervormde Kerk. Mense distansieer hulle van die kerk omdat hulle hulle nie kan vereenselwig met die onmin en die verskille in die kerk nie. Dit gaan oor die integriteit van die kerk. Daarom moet ons voortdurend vra: Hoe leef ons as Hervormde Kerk?

Lees verder...

Kom ontmoet die Allerhoogste God

Kersfees se ware vreugde is daar waar sondaars hul Here in die kind Jesus ontmoet in die volle sin van ontmoeting.

 

Hoe kan ’n mens die geboorteverhaal en die Algemene Kerkverga-dering met mekaar in verband bring? Dink aan die aangrypende prentjie van heidense geleerdes en herders wat die skamele geboortekamer betree. Hy het sonder woorde die sondaars en heidense geleerdes laat neerbuig met die pragtige belydenis wat vanuit die ontmoeting met die Jesuskind uit hul harte en monde vloei sodat dit ook ons laat beleef wat daar gebeur. So iets geweldigs nooi ons elkeen, ek en jy, die kerk en die gemeente om saam met Jesus op weg te gaan. Ons ontmoet Hom in die stal, luister na en drink sy teenwoordigheid in met ons ganse wese. Ons ontmoetings is ’n eksistensiële gebeurtenis waarin die totale menswees van die gelowige betrokke is en waar die mense met hul totale bestaan deel word aan ons Heer. Die AKV het ’n tree op hierdie ontmoetingsweg gegee. Hierdie verdieping in die teenwoordigheid van die God wat mens geword het, vloei ook onvermydelik tussen die gelowiges wat saam rondom Hom leef, doen, bid, lewe en sterwe.

Lees verder...

Jesus – die verheerlikte of die gekruisigde?

In die aanloop tot en tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering weet ons almal dat ons tans in die Hervormde Kerk tye van groot aanvegting beleef. Wat staan ons te doen?

In die San Marco-museum in Florence is daar ’n merkwaardige skildery van die 15de-eeuse kunstenaar Fra Angelico. Dit is ’n uitbeelding van die verheerliking van Christus op die berg waarvan ons in Markus 9: 2-8 lees. Die Christus-figuur, wat die fokuspunt vorm, vul feitlik die hele skildery. Hy staan met uitgestrekte arms daar, omring deur ’n hemelse wit lig. Op die rand van die skildery – letterlik as randfigure – sien ’n mens die verskrikte dissipels: Petrus, Jakobus en Johannes.

Lees verder...