Die Hervormer

Op reis deur Indië – ’n verruimde ervaring oor verdraagsaamheid

Die Bybel is vol reisverhale. Ons verneem byvoorbeeld van die aartsvaders se reise agter God se beloftes aan, die volk Israel se woestyntog, later die swerftogte van die ballinge, en dan is daar nog die pelgrimstogte. In die Nuwe Testament ontmoet ons Jesus, ook op reis, en vir Paulus, waarskynlik die mees berese van hul almal. Hoewel die aard van hierdie reise verskil, bevat dit een groot gemene deler – dit was lewensveranderende reise.

Mý reis begin egter by Rishikesh aan die voetheuwels van die Himalajas in die noorde van Indië, deur die provinsies Uttaraghand, Uttar Pradesh, Rajastan, Maharasthra al met die kus van Goa langs tot by die tropiese delta van Kerela aan die voetenent van Indië. Dis die gebied waar Vasco da Gama in 1498 voet aan wal gesit het, gevolg deur die Nederlanders en later die Franse. Dis om dié rede dat daar ’n eeu en ’n half later besluit is om ’n halfwegstasie aan die Kaap van Storms op te rig. Dit was dus aan Indië se speserye en tekstiel te danke dat ek en jy vandag onder die Afrika-son ’n bestaan maak.

Ons reis sou ons deur besige stede soos Delhi, Jaipur, Agra, Moembaai, Bangalore en Panaji neem waar daar om elke hoek en draai ’n verrassing op jou wag. Die verkeer in Indië kan as funksionele chaos beskryf word, maar die mense is hartlik, geduldig en toeganklik.

Ons wegspringplek is egter in die Himalajas. Hoewel Rishikesh half weggesteek lê tussen die bergpieke met die helderblou Ganges wat daardeur kronkel, is dit die wêreld se joga-hoof-stad. Orals in die nou straatjies kom jy pelgrims teë, pelgrims van reg oor die wêreld op soek na hulself. Die klein dorpie is vervuil van  ashrams. Ashrams is lokale waar mense joga beoefen en mediteer onder leiding van ’n jogi (joga-meester). Joga in Indië bestaan nie slegs uit liggaamsoefening soos dit deesdae in die Weste beoefen word nie. Dis ’n liggaamlike maar veral spirituele ervaring met die fokus op balans en harmonie soos voorgeskryf volgens die Hindoe-kanon, genaamd die Vedas. Joga beteken “om te heg”, liggaam en gees. Dis ’n dissipline of leefstyl wat met jarelange beoefening lei tot liggaamlike soepelheid en geestelike higiëne.

Met ons besoeke aan van dié ashrams het dit my opgeval hoe belangrik liggaamlike sowel as geestelike gesondheid vir Hindoes is. In dié opsig staan die sanatana dharma (Hindoe- filosofie en -leefstyl) nader aan die antieke Griekse opvatting, naamlik dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves, as aan die Joods-Christelike kanon waar liggaamsbehoeftes en oefening ’n ondergeskikte rol speel. Ek is nie bewus van enige tekste in die Bybel wat liggaamsoefening aanbeveel nie. Die Kama Sutra, ’n eksplisiete sekshandleiding, is byvoorbeeld geskryf deur Vātsyāyana, ’n filosoof in die sanatana dharma-tradisie gedurende dieselfde periode as wat kerkvaders soos onder andere Tertullianus, Jeronimus en later Augustinus te velde getrek het teen die sondes van die vlees.

Vir die Hindoe gaan dit egter primêr oor innerlike harmonie en balans wat spontaan na buite uitkring. Uitkring na mense en diere en die omgewing rondom jou waar ’n diepe aanvoeling en waardering vir ander lewe (ahimsa) en eenwording (joga) beoefen word, insluitende ’n eenwording met die Opperwese. Verdraagsaamheid teenoor ander lewe, mense en beskouings vloei hieruit voort. In weerwil van Westerse persepsies dat Hindoes politeïste is, vier die sanatana dharma eintlik die vele verskyningsvorme van ’n Opperwese.

Hindoes maak egter nie aanspraak op ’n monopolie oor die waarheid nie. Ook nie oor die finale en vasstaande waarhede oor God nie. Hindoes staan dus kenteoreties nader aan eietydse filosowe soos Friederich Nietzsche, Martin Heidegger, Jean Paul Sartre en Richard Rorty as aan Christelike nieu-ortodoksisme. Doktrines oor ’n godheid (smriti) word altyd opnuut bevraagteken en mites en legendes (shruti) speel ’n vername rol in die oordra van waarhede. Om die Godheid volledig te ontmasker, is vir die Hindoe ’n verskraling van die Godheid self. Daarom vind jy orals in Indië bykans speelse uitdrukkingsvorme van die transendente in ’n kleurryke verskeidenheid van simbole, rites en mites wat ons weens onkunde verwar met afgodsbeelde en afgodery.

Wat ons uit die oog verloor, is dat hierdie eeue oue tradisie ’n fyn aanvoeling het vir wat Paul Ricoeur in sy hermeneutiek op religieuse tekste die veelvoudige betekenisvelde van godsdienstige simbole, mites en rites noem. Volgens Ricoeur is alle religieuse uitdrukkings en tekste simboliese handvatsels na iets of iemand ver buite ons bereik. Binne die dialektiese teologie verwys ons na die voorlopigheid van alle teologiese uitsprake en opvattings. Hindoeïsme of die sanatana dharma is egter die oudste ononderbroke spirituele trajek wat die dialektiek tussen die bekendmaking en versluiering van ’n Opperwese verdiskonteer. Hierdie dialektiek vind neerslag in van die oudste Vediese himnes, die Bagavad-gita, die Puranas, tot in meer resente tekste. Die Upanishads poog byvoorbeeld om dié innerlike en persoonlike reis op soek na harmonie en ’n horisonsversmelting met die Hoogste Werklikheid te beskryf. Hier volg ’n uittreksel uit die Chandogya Upanishad wat dit duidelik illustreer: He from whom all works, all desires, all odours and all tastes proceed, who encompasses all this world, who is without speech and without concern, he, my self within the heart, is that Brahman.

Die godheid (Brahman) is dus onlosmaaklik verweef met die subjektiewe self (atman). Paulinies geïnterpreteer, beteken dit dat die Heilige Gees in ons woon. Binne hierdie dampkring waar die beperkte waarde van woorde, insluitende my eie woorde, met dubbelsinnige betekenismoontlikhede erken word, is daar dus ruimte vir aanvullende stiltes (meditasie) en ook vir gesprek met ander. Selfs respek vir ander – ander invalshoeke, interpretasies, leefstyle, asook godsdienstige beskouings.

Dis opvallend dat Hindoeïsme byvoorbeeld geen ken-teoretiese ongemak, soos wat ons alte dikwels onder fundamentalistiese monoteïste vind, teenoor moderne wetenskap en sekularisme openbaar nie. Hul openheid vir dialoog en interaksie strek ook oor godsdienstige grense heen. Met ons besoek aan die Lotustempel in Delhi het ons dit eerstehands ervaar. Die Lotustempel is ’n indrukwekkende struktuur gebou in die vorm van ’n lotusblom wat herlewing simboliseer. Dis ’n lokaal waar mense van enige godsdienstige oortuiging welkom is. Die Lotustempel is ’n monument van godsdienstige toleransie. Tydens my uur van stilte in dié tempel tussen gelowiges van ander kontinente en godsdienste, kon ek ’n band van medemenslikheid aanvoel. Selfs ’n gewydheid sonder liturgie, ’n preek sonder woorde waar ons mekaar as medemense aanvaar, elk met ons unieke herkoms, tradisie en spiritualiteit.

Terselfdertyd kon ek nie help nie om te dink aan al die newe-effekte van godsdienstige onverdraagsaamheid, aangewak-ker deur fundamentalisme. In werklikheid voed die een die ander. Teen hierdie tyd weet ons almal dat fundamentalisme veel eerder gaan oor die lens waardeur daar gekyk word as waarna daar gekyk word, of dit nou my medemens of ’n kanoniese teks is. En teen hierdie tyd besef ons ook watter skadelike effek godsdienstige onverdraagsaamheid kan inhou. Sedert die slag van Yarmuk (636) waar die Bisantyne en die Moslems mekaar vir die eerste keer behoorlik aan die keel gegryp het, tot Manzikert in vandag se Turkye (1071) wat die einde van die Bisantynse Christendom ingelei het, van die slag van Hattin net buite Nasaret (1187) waar kruisvader en jihadis vir die hoeveelste keer slaags geraak het, tot  9/11 in New York, is honderde duisende mense dood, vermink, ontwrig en geviktimiseer in die naam van godsdiens.

Terwyl ek die artikel skryf, lê hier straks koerantartikels op my lessenaar wat handel oor die bloedige aanval op moskees in Nieu-Seeland en op kerke in Sri Lanka. Ek lees tot my verbasing hoe Christene vir Christene kwaad word as hul mede-Christene dit durf waag om vir Moslemslagoffers te bid. En ek dink aan my reis deur ’n subkontinent met ’n inwonertal van 1,3 miljard mense met ’n kaleidoskoop van religieuse tradisies wat in harmonie met mekaar saamleef. My gedagtes dwaal tot by hul gode wat waarskynlik glimlag oor al die woede in die naam van godsdiens, en ek wonder of godsdiens ten diepste gaan oor my brandende behoefte om iemand anders te oortuig hoe reg ek en hoe verkeerd die ander een is. Gaan dit nie tog maar oor joga nie? Met ander woorde, ’n mistieke verbintenis met die onsienlike en ’n voortdurende reis na selfontdekking. Ontdekking van die lig en donkerte in en om my, die tydelike en die ewige in en om my. ’n Strewe na ’n outentieke ontmoeting met die Groot Self, wat my voortdurend ontwyk.

Lead me from the unreal to the real.

Lead me from the darkness to the light.

Lead me from death to immortality.                                                                      

(Brihadaranyaka Upanishad)

Is dit hier waar ek vir Jesaja en vir Paulus raakloop op my reis deur Indië?

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë…

(Ds Kobus Pienaar is leraar in Gemeente Kruin)