Die Hervormer

Hoe lees ons die Bybel?

Vir gelowiges in die Christelike tradisie is die Bybel baie belangrik. Dit behoort ook so te wees, omdat die Bybel vir ons die bron is wat ons vertel wie en wat die God is in wie ons glo. Die Bybel is verder ook die bron wat ons lees wanneer ons wil weet hoe ons in hierdie wêreld in die teenwoordigheid van God tot voordeel van ander en die skepping behoort te leef.

Om die woord(e) van God in die Woord (Bybel) te hoor, of om te bepaal wat die Bybel vandag vir ons oor bepaalde sake wil sê, is egter nie so ’n eenvoudige saak nie. Die rede hiervoor is nie, soos baie argumenteer, omdat die Bybel nie altyd iets te sê het oor spesifieke sake in ons moderne tyd soos die kloon van diere of mense nie. Nee, die rede is dat alle gelowiges nie die Bybel op dieselfde manier lees nie, en dat talle Bybellesers nie altyd besef nie dat die lees van die Bybel allesbehalwe ’n eenvoudige saak is.

Talle Bybellesers sal waarskynlik nie met laasgenoemde stelling saamstem nie. Om te verstaan wat die Bybel vir ons wil sê, oordeel hulle, is eintlik ’n baie eenvoudige saak. Lees net wat daar staan. Moet nie die saak ingewikkeld maak deur te veel vrae te vra nie. Lees net wat daar staan! So eenvoudig is dit... Hierdie benadering tot die lees van die Bybel laat my altyd dink aan ’n bufferplakker wat ek gereeld sien wanneer ek sekere dele van Amerika besoek om daar ’n teologiese kongres by te woon: God said it. I believe it. That settles it. So eenvoudig is dit...

Letterlike lees

Hierdie soort lees van die Bybel word ’n letterlike lees van die Bybel genoem, ook bekend as fundamentalisme of biblisisme. Die teks word bloot op sigwaarde geneem, en wat letterlik daar staan, is wat die teks beteken.

Hierdie wyse van die lees van die Bybel skep geen probleem nie wanneer ons byvoorbeeld in Johannes 3: 16 lees dat God so ’n liefdevolle God is dat Hy sy Seun vir die wêreld gee sodat gelowiges nie verlore sal gaan nie. Maar wat van 1 Samuel 15: 3, waarin God vir Saul opdrag gee om nie net Amalek te verslaan nie, maar ook dat hy man en vrou ... kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie moet doodmaak? Is dit dieselfde God as die God van Johannes 3: 16?

En wat maak ons met tekste in die Bybel wat handel oor vroue? In Galasiërs 3: 28 sê Paulus byvoorbeeld dat daar in Christus geen onderskeid tussen man en vrou is nie, en in 1 Korintiërs 7: 2-5 stel hy dat die man en vrou in die huwelik in elke opsig gelyke vennote is. In 1 Timoteus 2: 11-12 lees ons egter dat die vrou onderdanig aan die man moet wees. Wat meer is, die vrou moet stil in die erediens wees, mag geen onderrig gee of oor die man gesag uitoefen nie. Dit, terwyl vrouepredikante Sondag vir Sondag in ons Kerk van ons kansels af preek, mans en vroue onderrig, en almal, of ten minste die oorgrote meerderheid, aanvaar dit gelate. Dit is tog, baie duidelik, teen die voorskrifte van die Bybel in.

En wat maak ons met ’n Jesus wat in Matteus 7: 1 baie duidelik sê dat ons nie mag oordeel nie, maar in Matteus 23 self die Fariseërs by verskeie geleenthede veroordeel?

Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde wat aantoon dat ons nie die Bybel eenvoudig net op sigwaarde kan lees nie. Baie gou draai ons vas, en al hoe hierdie soort lees oorleef, is die willekeurige kies van tekste wat pas by hoe ek voel en glo, en die ignorering van daardie tekste wat nie by my agenda inpas nie.

Lees met vooronderstellings

Laasgenoemde benadering bring ons by ’n tweede soort lees van die Bybel, naamlik ’n lees waarin my vooronderstellings bepalend is vir wat die Bybel ons wil leer. As iemand byvoorbeeld die uitgangspunt handhaaf dat God nie persone met ’n homoseksuele oriëntasie skep nie, sal die tekste in die Bybel wat oor homoseks handel, op ’n bepaalde manier gelees word. Vooroordele en vooronderstellings speel ’n groot rol in hoe ons die Bybel lees. Vooroordele, as voorbeeld, word dikwels op onbewuste maniere gevorm, en daarom besef Bybellesers dikwels nie in watter mate sekere vooropgesteldhede ’n rol speel in hoe ons die Bybel lees nie.

Kritiese lees

In die Hervormde Kerk het ons onsself nog altyd van bogenoemde twee wyses van Bybellees afgegrens. In die voetspore van die Reformasie, en veral Luther en Calvyn, het die Hervormde teologie nog altyd krities met die teks van die Bybel omgegaan. Eenvoudig gesê, beteken dit dat ons aanvaar dat daar ’n historiese afstand tussen teks en die moderne leser is, dat enige teks altyd die produk van ’n bepaalde sosiale sisteem (kultuurwêreld) is, en dat hierdie kultuurwêreld – veral in die geval van die Bybel – verskil van die kulturele bodem van die moderne leser.

As ’n eenvoudige verduideliking van hierdie soort lees van die Bybel kan ons 1 Timoteus 2: 11-12 en 1 Korintiërs 14: 34-35 as voorbeelde neem. In albei hierdie tekste lees ons dat vroue nie in die erediens mag praat nie, en onderdanig aan hul mans moet wees. Wanneer ons die kultuurwêreld waarin hierdie twee tekste onstaan het in ag neem, weet ons dat in die tyd toe hierdie twee Bybelse boeke geskryf is dit as ’n kulturele norm aanvaar is dat vroue aan mans onderdanig moes wees, en dat vroue nie toegelaat is om mans te leer nie. Daarom die opdrag dat vroue nie in die erediens mag praat nie. ’n Kritiese lees help ons dus om raak te sien dat ons hier met ’n kulturele aangeleentheid te make het, en nie met ’n evangeliese waarde nie. En juis daarom hoef ons hierdie voorskrifte nie vandag as bindend op ons te sien nie.

’n Kritiese lees van die Bybel, soos ons dikwels hoor, is daarom nie ’n aanslag op die gesag van die Skrif nie. Inteendeel, dit het soveel eerbied vir die Bybel dat dit so ernstig moontlik met die teks omgaan. Hierdie soort lees worstel sonder ophou met die vraag hoe die Bybel as antieke dokument in ons moderne wêreld steeds sinvol kommunikeer, en hoe ons die Bybel moet lees om reg aan die Bybel te laat geskied. Hoe weet ons dat ons die Bybel krities lees?

Ons lees die Bybel krities wanneer ons ’n Bybelteks waarmee ons besig is, toelaat om tot ons te spreek en dit nie te laat buikspreek wat ons wil hê dit moet sê nie; wanneer ons regtig wil hoor wat die teks sê sonder om ons eie verstaan van die teks in die teks in te lees; wanneer ons daarteen waak om die betekenis van ’n teks so te draai en buig totdat dit ons standpunt ondersteun; wanneer ons bereid is dat die teks ons standpunt oor ’n bepaalde saak kan verander; en wanneer ons aanvaar dat die teks soms nie vir ons die oplossing gee waarna ons gesoek het nie. Dit, terwyl ons altyd onthou dat daar ’n historiese en kulturele afstand tussen ons en die Bybelteks is, en dat, ten spyte hiervan, die Bybel vandag nog ons rigsnoer vir ’n lewe voor God en ’n lewe saam met ander behoort te wees. Omdat God lewe, lewe sy Woord ook!

(Prof Ernest van Eck is adjunkdekaan van UP se Fakulteit  Teologie en Religie

en hoof van die Departement Nuwe  Testament en Verwante Literatuur)