Die Hervormer

Jongmense is die sleutel tot Afrika se toekoms

Op 19 en 20 Februarie 2019 het die Afrika-tak van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) ’n jeugkonferensie aangebied. Die werkwinkel is bygewoon deur jong afgevaardigdes van lidkerke van regoor Afrika. Vier verteenwoordigers van ons Kerk was teenwoordig.

Die onderwerpe onder bespreking het gefokus op twee spesifieke aspekte van geregtigheid: ekologiese geregtigheid en gendergeregtigheid.

Die gesprek oor ekologiese geregtigheid is gelei deur ’n jong predikant van die United Church of Zambia. Sy aanbieding het die probleem van klimaatsverandering in Afrika verduidelik aan die hand van die impak wat die krisis het op weerpatrone, voedselsekuriteit en gesondheid. Dit is veral vir die Afrika-kontinent belangrik om die krisis van klimaatsverandering te verstaan. Afrika is een van die kontinente wat die weerloosste is in terme van die klimaatskrisis. Ons sterk afhanklikheid van reën vir landbou, armoede, swak ekonomieë en infrastruktuur wat nie klimaatsverandering kan hanteer nie, is maar enkele van die faktore wat daartoe lei dat Afrika swaarder gebuk gaan onder klimaatsverandering.

Die werkwinkel het ’n oproep gerig aan die jongmense van die Afrika Gemeenskap van Gereformeerde Kerke (AGGK) om hulle te beywer vir alle vorme van geregtigheid. Die taak om gemeenskappe bewus te maak van ekologiese en genderkwessies rus op jongmense se skouers. Rondom 1,3 biljoen van die wêreldbevolking is jongmense, waarvan baie in die ontwikkelende wêreld woon. Die jeug kan op innoverende wyses saamwerk om oplossings te vind en leefstylveranderinge te maak wat op die lang duur volhou-baar is vir die omgewing en plaaslike gemeenskappe.

Die jeugkonferensie het ’n ruimte daargestel vir opbouende gesprekvoering. Die waarde van ekumene is juis geleë in die leergeleentheid wat interaksie oor kerklike en landsgrense heen bied. Daar is saam gepraat oor die uitdagings wat die kerk en samelewing in Afrika in die gesig staar. Daar is gedink oor die rol van die kerk in die hantering van hierdie uitdagings. Die bespreking wat ons die Dinsdag bygewoon het, het spesifiek oor ekologiese geregtigheid gehandel. Dit was besonder interessant om te hoor watter programme in die onderskeie lande en kerke geïmplementeer is ten opsigte van klimaatsverandering. Uit die gesprekke het dit duidelik geword dat daar in lande soos Tanzanië, Angola en Ghana ’n groot ekologiese bewussyn op nasionale sowel as kerklike vlak is. Daar is verskeie beleide in plek wat fokus op wyses waarop klimaatsverandering hanteer kan word. Kerke het projekte wat volhoubare en organiese boerdery bevorder, sowel as boomplantdae en skoonmaakoperasies.

Terwyl ek so na die jong gelowiges van Afrika geluister het, het ek gewonder watter rol ons plaaslike gemeentes in die breër samelewing speel met betrekking tot kwessies van geregtigheid. Ons kan gerus leer uit inisiatiewe elders op die kontinent. My onkunde oor wat op die res van ons kontinent aangaan, het my laat dink aan Jaco Strydom wat in sy boek Confessions oor Kerkwees (2018) sê dat ons in Afrika woon, maar dan vra of ons dit weet. Ons is baie keer so vasgevang in ons plaaslike probleme dat ons van die groter prentjie vergeet. Die res van Afrika ervaar grotendeels dieselfde frustrasies en probleme wat ons hier beleef. Wanneer ons in gesprek tree met mekaar, na mekaar luister en by mekaar leer, kan ons ’n toekoms bou. 

Die jeugkonferensie het my aangenaam verras. Dit was ’n positiewe geleentheid wat samewerking tussen jongmense van regoor Afrika bevorder. Deur netwerke van geloof te vestig, kan ons die uitdagings wat die toekoms van die kerk en samelewing in Afrika bedreig, saam aanpak. Ek het hoop vir ons toekoms. Ek het hoop vir ons land. Ek het hoop vir Afrika.

(Marina Kok is ’n finalejaar teologiestudent aan UP)