Die Hervormer

Wat bind ons saam?

Ds Martyn Redelinghuys, emeritus, skryf:

Onder die opskrif Wat bind ons saam? skryf prof Theuns Dreyer in Die Hervormer van September 2016 dat die samebindende faktor in ons Kerk nie eerstens deur ons Hervormerskap bepaal moet word nie, maar deur ons Christenskap. Ons Hervormerskap-identiteit moet ondergeskik wees aan en bepaal word deur ons Christenskap. Dit skerp hy in. Dankie daarvoor.

Dit is miskien nodig dat ons elkeen voor ons spieël gaan staan, onsself in die oë kyk en eerlik antwoord wat ons identiteit in die eerste plek is. ’n Predikant het op ’n keer vir my gesê daar was ’n tyd toe hy in die eerste plek Afrikaner en in die tweede plek Christen was. Eerlike selfondersoek het hom sy dwaling laat besef. Daar was ’n tyd toe baie van ons in die eerste plek Afrikaner, in die tweede plek Hervormer en in die derde plek Christen was.

Read more ...

Verstarde eredienste

Prof Bieks Beukes, emeritus, skryf:

Die lidmaatgetalle van ons Kerk is besig om drasties af te neem. In baie van ons gemeentes sit daar Sondae nog net ’n paar bejaardes in die kerk. Die afwesigheid van kinders en jongmense is opvallend. Baie redes kan genoem word vir hierdie afname. Een van die belangrikstes is waarskynlik die inkleding en aanbieding van ons eredienste. Enersyds het sommige gemeentes hul eredienste vernuwe net om te vernuwe, en het hulle verval in ’n platvloerse liturgie wat baie mense nie aanspreek nie. Andersyds kleef sommige gemeentes so vas aan ou vorme en aanbiedingswyses dat hul eredienste argaïes, onbesielend en veral boodskaploos is.

Read more ...

Bybelvasvra 2017

Ds Quinten Schimper skryf:

Die Bybelvasvra haak in 2017 aan by die tema 500 jaar Kerkhervorming. Dit is ons droom dat elke ring van die Kerk by die nasionale vasvra in Oktober 2017 verteenwoordig sal wees.

Een van die Bybelboeke waarin ons by uitstek die temas rondom die Reformasie terugvind, is Romeine. Daarom bestaan die bestek vir 2017 se Bybelvasvra uit Romeine 1-16. Die artikel deur prof Natie van Wyk oor die geskiedenis van die Kerkhervorming (bladsye 6-11 in die Gedenkalbum) maak ook deel uit van die bestek.

Normaalweg is daar ’n Kopkrapper-afdeling as deel van die Bybelvasvra, maar in 2017 gaan die algemene Bybelkennis deurlopend getoets word. Kom ons herdenk die Kerkhervorming in 2017 ook op hierdie wyse – waar gelowiges, soos die Hervormers, ook met Romeine worstel.

Vir meer besonderhede, kontak di Stephen de Beer (074 658 4630), Marius Bacon (083 297 6135) of Quinten Schimper (076 687 7410).   

Aan die redakteurs

Prof Bieks Beukes, emeritus, skryf:

Ds David Barnard, baie dankie vir die uitstekende werk wat jy gedoen het. Ds Willem Sauer, jy is beslis ’n waardige en uitstekende opvolger vir David en al jul voorgangers. Baie sterkte!

Hoe gemaak met Advent?

Iets wat nie bewysvoering nodig het nie, is dat die woorde en handelinge van Jesus tot gevolg gehad het dat daar betreklik vroeg mense rondom Hom versamel het wat ’n antwoord probeer vind het op die vraag: Wie is hierdie Jesus van Nasaret? Maar nie net dit nie, hierdie vraende groepies het algaande geloofsgemeenskappe geword wat sy woorde en handelinge as van betekenis vir hul lewe en omstandighede verstaan het en dit aan ander begin deurgee het. 

Dat hierdie gemeenskappe se interpretasies nie alleen van mekaar verskil het nie, maar in bepaalde opsigte selfs onversoenbaar met mekaar was, kan duidelik gesien word in die neerslag wat dit gevind het in die verskillende dokumente van die Nuwe Testament, sowel as in verskeie ander geskrifte uit die vroeg-Christelike era. Dit blyk verder dat sekere interpretasies met verloop van tyd uitgebrei is en al verder van die waarskynlike historiese kern af beweeg het. Dit is trouens ’n bekende verskynsel van mondelinge oorlewering dat ’n vertelling oor ’n  gebeurtenis dikwels só uitgebrei of gewysig word dat dit uiters moeilik is om by ’n historiese kern uit te kom.

Read more ...