Die Hervormer

Stoepstories: Hoekom is álle babas in dooprokke gedoop?

Oumagrootjie Stoep het op ’n dag vir Oupa Stoep ’n foto gewys van die dag toe hy gedoop is – en daar lê Oupa Stoep in sy ma se arms, netjies uitgevat in ’n dooprok!

Toe Oupa Stoep daaroor begin protesteer, beduie Oumagrootjie Stoep verontwaardig dat dit ’n baie streng gebruik in daardie dae was dat alle babas in ’n rok gedoop word en dat dié rok waarin Oupa Stoep gedoop is, al drie geslagte oud is.

Oupa Stoep vind toe uit een van die gebruike wat uit die vroegste kerk kom, is dat dopelinge ’n doopkleed of dooprok aantrek. Daar bestaan beskrywings van doopgeleenthede uit die eerste eeue na Christus.

Die doop van bekeerlinge het verskillende vorme aangeneem en is dikwels bepaal deur omstandighede. Vir byna 250 jaar het Christene nie oor enige kerkgeboue beskik nie en het hulle dikwels in die geheim eredienste bygewoon. Die eredienste het in mense se huise, in grotte of in bosse plaasgevind. Die doopritueel moes dus aanpas by die fisiese omstandighede van die gemeente. Wat egter baie algemeen was, is dat daar van die dopeling verwag is om ’n wit kleed aan te trek, simbolies van reiniging deur Christus en die afwassing van die dopeling se sonde.

In die vroeë kerk is hoofsaaklik volwassenes gedoop. Die eerste bekeerlinge in ’n bepaalde gebied was volwassenes, maar tweedegeslag Christene is dikwels as kinders gedoop. Voor die doop van volwassenes is hulle eers gekatkiseer. In die gemeente van Rome was die gebruik dat die bekeerlinge die Twaalf Artikels (wat ons nou nog in die erediens gebruik as geloofsbelydenis) moes ken en verstaan.

Een beskrywing van die dooppraktyk van destyds lui soos volg: Die kategumenoi (dié wat klaar gekatkiseer is en gedoop moet word) het met sonsondergang aan die westekant van die rivier bymekaargekom, geklee in ou, vodde klere. Deur die nag het hulle gewaak en gebid. Met sonsopkoms het hulle in die rivier ingegaan en is hulle gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Daarna het hulle die ou klere uitgetrek, en ’n wit kleed aangetrek. Daarna is hulle na waar die gelowiges bymekaar was en is hulle ingelei. 

Die simboliek van hierdie ritueel is duidelik. Die byeenkoms aan die westekant met sononder is simbolies van die duister, sonde en dood. Die water en doophandeling is simbolies van die afwassing van die sonde deur die bloed van Christus. Die ingaan in die water en die uitkom uit die water was simbolies van die sterf saam met Christus en die opstanding tot ’n nuwe lewe. Die wit doopkleed dui op die kleed van geregtigheid, waarvan ons ook in Openbaring lees. Dit is simbolies van reinheid. Die inlei in die gemeente is simbolies van die inlywing in die gemeente van Christus, die eenheid met die liggaam van Christus en met Christus self.

Deur al die eeue was dit dus die gebruik dat dopelinge (hetsy babas, kinders of volwassenes) ’n wit doopkleed dra en dat hulle in die kerk ingebring word. In die moderne tyd het hierdie simboliek en die betekenis daarvan grootliks verlore gegaan.

Omdat die dra van ’n dooprok so oud soos die Christendom self is, dink Oupa Stoep dat dit ’n gebruik is wat ons weer moet leer waardeer. En dit kan baie veiliger wees vir die baba wat gedoop word, want as daar ’n doopbaba gebring word, geklee in ’n Bloubul-uitrusting, kompleet met petjie met horinkies op, dan sal Oupa Stoep bitter hard op sy tande moet kners om die baba nie te doop totdat die borrels ophou nie...