Die Hervormer

Stoepstories: Die wit strikdas...

Lang jare gelede, toe Oupa Stoep nog Nefie Stoep was, het hy gedien as diaken in die kerkraad van Gemeente Philadelphia.

Een Sondag het wyle prof Piet van der Merwe op sy kenmerkende droë en formele manier die kerkraad daaraan herinner dat die Kerkwet bepaal dat die dra van ’n wit strik-das nog amptelike drag vir kerkraadslede is. Die volgende Sondag was almal uitgevat in hul swart pakke, wit hemde en wit strikdassies. Nefie Stoep kon nie ophou giggel nie. Toe prof Piet hom vra wat hy so snaaks vind, moes hy antwoord: Ek het nog nooit so ’n spul groot, uitgevrete pikkewyne bymekaar gesien nie. Prof Piet was nie geamuseer nie.

Die dra van wit strikdassies het ’n lang geskiedenis. In Gautherius se A complete and accurate history of Christianity Vol III beskryf hy ’n gebruik wat reeds in die vierde eeu na Christus beslag gekry het, te wete strikdas Sondag. Daar was blykbaar ’n monnik met die naam Hieronymus  wat geworstel het met sy eie geloofsreis. Hy was bevrees dat hy die pad byster sou raak. In ’n visioen sien hy toe Jesus Christus, wat hom lei met ’n tou wat om sy nek vasgemaak is. Dit het gelei tot ’n tradisie waarin die mense op ’n spesifieke Sondag ’n strikdas gedra het as simbool van die tou waarmee Christus ons lei. In die tyd van die Renaissance is die praktyk aangepas deur allerlei ornamentele strikke om die nek te dra,  maar ook deur meisies in hul hare of op hul klere, veral die strik wat op die middellyf aangebring word.

Veral tydens die Industriële Revolusie het mans toenemend in fabrieke en kantore gewerk, en wou hulle ook graag netjies aantrek. ’n Lang das was dikwels in die pad, daarom is oorgeslaan na die dra van ’n strikdas omdat dit nooit in die pad was of gevaarlik was nie. Dit het gevolglik mode geword en deel geword van alledaagse kleredrag. Geen welopgevoede man sou sonder ’n strikdas en baadjie in die openbaar verskyn nie, veral nie Sondag in die kerk nie. Omdat die leiersfigure in die kerk (predikante en ouderlinge) in die 19de eeu byna uitsluitlik uit die hoër middelklas gekom het (ongeletterde arbeiders sou beswaarlik oorweeg word vir die posisie van ouderling!), het dit praktyk geword dat hulle strikdas en manel na die kerk gedra het – dit het mettertyd ’n vaste tradisie geword, veral in die Hervormde Kerk. Nadat die manel verdwyn het, is dit vervang met ’n swart pak en wit strikdas.

In die NG Kerk is die wit strikdas vervang met ’n wit langdas – juis daarom het die Hervormers, in die handhawing van hul unieke Hervormde tradisie en om hulle te onderskei van die NG Kerk, lank volgehou om die strikdas te dra. Hervormde kerkraadslede is vir dekades uitgeken aan hul wit strikdas. Die strikdas is eers formeel deur die AKV in 1985 afgeskaf, en Oupa Stoep kon met groot vreugde sy wit strikdas op pensioen sit.