Die Hervormer

Die erediens in die NHKA

Ds Fanie Naudé, Emeritus/Greylingstad, skryf:

Die afgelope tyd vra ek myself af wat die betekenis van die erediens vir ons lidmate is. Dit is selfs ’n vraag aan sommige predikante van ons Kerk. Is die erediens deesdae net ’n gesellige samekoms, of is dit ’n eerbiedige ontmoeting met die Heer van die kerk, deur sy Woord en Gees? Ons sing immers in Gesang 159: God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader.

Dit is elke predikant se verantwoordelikheid dat die erediens so verloop dat die lidmate dit beleef as ’n gespreksontmoeting met die Heer van die kerk. Die liturgie kan elke Sondag aangepas word sodat die erediens nie ’n eentonige herhaling word nie. Daar is vele moontlikhede en ek aanvaar dat dit wel plaasvind.

Die prediking moet ook met erns voorberei word. Daar was al geleenthede waar ek ná die diens gefrustreerd uitgeloop het. Dit was duidelik dat die eksegese tweede gekom het. Die dominee het vergeefs probeer om met eie oortuiging te preek. Die lidmate kom dit ook agter en verloor belangstelling, en het nie juis motivering om volgende Sondag weer na ’n sinlose preek te kom luister nie.

’n Belangrike saak is die votum en seëngroet aan die begin en die seëngroet aan die einde van die erediens. Ek het al tydens ’n begrafnisdiens beleef dat die liturg, na ’n paar mooi woorde van simpatie, sy regterhand terloops uitsteek met die woorde: Genade en vrede vir julle. Dit is nie ’n seëngroet nie, en die besondere teologiese betekenis daarvan is skandelik verlore.

Ons as predikante moet opnuut besef dat ons die besondere voorreg het om die gemeente in die Naam van God te groet. Dit is net die geordende, met hand opgelegde bevestigde dienaar van die Woord wat die seëngroet amptelik met uitgestrekte hande mag uitspreek. Daarmee word die goedheid, guns en liefde van die drie-enige God aan die gemeente toegesê. Dit is meer as net ’n gewone bede. Terwyl die votum proklameer dat daardie erediens in die Naam van die Heer van die kerk geskied.

Geen predikant mag hierdie formele handeling, met besondere teologiese betekenis, blatant verwaarloos nie. Ons moet toesien dat die erediens van begin tot einde ’n saak van erns voor die Here is, sonder om die geleentheid oninteressant en morbied te laat verloop. ’n Formele erediens en goeie prediking was nog altyd deel van ons Kerk se etos waarop ek trots is. (Brief ietwat verkort)