Die Hervormer

Genadedood

Na ’n besluit deur die hoër hof vroeër vanjaar, sal genadedood nou ook in Suid-Afrika wettig kan gebeur. Die vraag aan elkeen van ons is: Sal die gebruik van genadedood in my eie kring aanvaarbaar wees indien dit wettig is?

Genadedood of eutanasie is vir baie lank reeds deel van ons lewens. Wie ken nie die toneel van ’n geliefde troeteldier wat al tjankend probeer opstaan wanneer hy geroep word nie? Die getroue ou lewensmaat wat altyd by jou voete was en nou nie meer wil eet of drink nie. Wie ken nie die bittere hartseer gepaardgaande met skuldgevoelens wanneer hierdie dier vir sy laaste tog na die spreekkamer van die veearts geneem word nie? Ons troos onsself telkens met die gedagte dat hy nou bevry is van ’n aardse lyding wat, aldus die veearts, nie verlig kon word met sy kennis en sy vaardighede nie. Geen mens hou daarvan om ’n ander wese te sien ly nie.

Die saak van genadedood is ’n baie komplekse aangeleentheid met regsimplikasies, etiese en morele vraagstukke en emosionele bagasie wat onlosmaaklik daaraan verbind is. In ’n kort artikel soos hierdie kan ons hoogstens die punt van die ysberg met mekaar deel.

Wat is eutanasie?
Eutanasie is ’n Griekse woord vir “aangename” dood. Die beskrywing is nou argaïes en die woord het in ons tyd ’n totaal ander betekenis. Eutanasie vind plaas wanneer een persoon die lewe van ’n ander persoon of wese beëindig, met die doel om die een wat sterf se pyn of lyding te beëindig. In ons troeteldiere se geval kon hulle self niks oor die eutanasie sê nie. Die besluit word heeltemal aan die mense rondom hulle se diskresie oorgelaat.

Dit gebeur dikwels ook in die mensewêreld dat ’n pasiënt se pyn nie onder beheer gehou kan word nie. Dit word soms so erg dat die pasiënt sê hy wens hy kan maar sterf. Dit word ook vir naasbestaandes so erg dat hulle die versugting uitspreek dat hy sterf eerder as om sy lyding langer te moet aanskou. Hoe dikwels hoor ons nie ’n versigtig bewoorde uitspraak van familielede wat weke en soms maande langs ’n lydende se bed moes staan: Ek is emosioneel gereed as die Here hom/haar vandag moet neem of Miskien sal dit beter wees as die Here hierdie mens van die ondraaglike pyn en lyding bevry.

Wat sê die dokters?
In sulke gevalle sou die omstanders op die pasiënt se versoek of moontlik die pasiënt self met ’n dokter onderhandel om te hoor of hy sou kans sien om so ’n dodelike inspuiting te gee. Met dien verstande dat dit binne die landswette en met die nodige deernis en waardigheid gedoen kan word. As die dokter daarvoor kans sien, sal hy die inspuiting moet toedien sodat die pasiënt – soos met narkose – rustig aan die slaap raak en vir ewig slaap. Ongeveer 50% van artse in die VSA en ongeveer 64% van artse in die Verenigde Koninkryk meen dat dit, gegewe die omstandighede, tog ’n moontlikheid is.

In die verlede sou die dokter wetlik aangekla kon word. Die verbreking van die Hippokratiese eed wat die behoud van lewe vooropstel, blyk ’n verdere probleem te wees.

En die wet?
Na ’n besluit deur die hoër hof vroeër vanjaar, sal genadedood nou ook in Suid Afrika wettig kan gebeur. Daar is uiteraard heelwat voetangels daaraan verbonde en ’n persoon sal steeds via die hof toestemming moet verkry, maar die moontlikheid om genadedood wettig in Suid-Afrika te laat plaasvind, is nou ’n werklikheid.

In die lande waar eutanasie in beginsel reeds wettig is, is daar probleme om die fynere besonderhede en etiese en emosionele vraagstukke wat daarmee gepaardgaan, uit te werk.

Vorme van  eutanasie
Daar is verskillende vorme van eutanasie:

Vrywillige eutanasie: Die pasiënt is by sy volle positiewe en hy of sy versoek eutanasie.

Eutanasie sonder ’n pasiënt se toestemming: Dit word gedoen wanneer die pasiënt nie meer in staat is om te praat nie, soos in gevalle waar iemand reeds vir alle praktiese doeleindes breindood is, of na onomkeerbare trauma soos ’n ongeluk en waar die moontlikheid van sinvolle lewe nie meer bestaan nie. Dit word dan deur ’n dokter gedoen op versoek van die familie of met die toestemming van die familie. Die trauma vir ’n familie wanneer so ’n besluit geneem moet word, is groot. Vanuit ’n godsdienstige oogpunt is dit te verstane, aangesien ons as gelowiges nog al die jare glo en bely dat lewe ’n geskenk van God is en dat lewe aan Hom behoort. Lewe of dood word deur Hom op sy tyd bepaal. My tye is in u hand... (Ps 31: 16).

Passiewe eutanasie. Dit behels dat ’n persoon se lewe beëindig word deur nie die noodsaaklike medikasie te gee nie of deur noodsaaklike prosedures en middele te weerhou.

Aktiewe eutanasie. Daar word gehelp om ’n persoon se lewe te beëindig deur die gebruik van voorskrifmedikasie deur ’n dokter. Dit geskied wanneer ’n dokter doelbewus aan die pasiënt ’n oordosis van voorskrifmedikasie beskikbaar stel. Dit word ook genoem selfmoord met die hulp van ’n ander persoon. Die grootste probleem tans is om ’n formule te vind wat sal aandui wie hiervoor kwalifiseer en wie nie.

Argumente vir eutanasie
Eutanasie verskaf ’n wettige manier om van ondraaglike pyn verlos te word. Die versorging van ’n terminaal siek persoon is byna onbekostigbaar, tot so ’n mate dat  familie dikwels nie in staat is om die rekeninge te betaal nie. Dit kan boonop emosionele oorlading by naasbestaandes verlig.

Argumente teen eutanasie
In die meeste lande waar eutanasie wel gebruik word, het die gevallestudies uit die verlede aangetoon dat slegs ’n persentasie van voorbeelde te make gehad het met ondraaglike pyn. In ’n beduidende persentasie van die gevalle was daar eerder van ondraaglike psigologiese pyn sprake.

Ons godsdienstige waardes vra opnuut aan ons die vraag: Wie hou lewe en dood in hul hand? Ons kan kwalik by ’n ander gevolgtrekking uitkom as dat God in beheer is van ons lewens.

Intussen word ons direk of indirek, langs ’n siekbed of op ’n afstand, gekonfronteer met die moontlikheid van genadedood. Ons word getoets met die vraag: Sal die gebruik van genadedood in jou eie kring aanvaarbaar wees indien dit wettig is binne jou spesifieke omstandighede en indien die omstandighede dit vereis of oproep?

Kommentaar