Die Hervormer

Voldoen die NHKA se kategesemateriaal nog aan lidmate se behoeftes?

Tydens die bosberaad oor jeugbediening aan die einde van April vanjaar het die deelnemers bevind dat die materiaal wat benut word om die NHKA se jongmense formeel toe te rus en te bemagtig om dissipels te wees, in ’n groot mate beperk is tot kategesehandleidings wat deur die Kerk geskep en versprei is. En toe kom die kritiek.

Hoewel daar klaarblyklik groot waardering is vir die materiaal en die wyse waarop dit saamgestel is, was die gevoel onder die groep dat die lesse soos dit tans saamgestel is, steeds te lywig en omslagtig is, en dat inhoude nie op ’n maklik verteerbare manier aan die jeug oorgedra word nie. Meer praktiese oefeninge en beter benutting van tegnologie, waarmee ons jeug daagliks werk, sou volgens hulle wenslik wees. 

’n Beduidende deel van die groep het gemeen dat boeke vorentoe slegs elektronies beskikbaar moet wees. Wysigings aan inhoude kan sodoende maklik en bekostigbaar aangebring kan word.  Hiervoor kan ’n sogenaamde app (toep) ontwikkel word. 

Daar is ook gesê dat temas soms herhaal word of nou verwant is aan mekaar, en te lank uitgerek word. Ook word daar glo steeds te veel klem gelê op die kognitiewe vermoë van ’n kind, en die sosiale en affektiewe word in ’n mindere mate geraak. Die behoefte bestaan om meer verhoudingsgerig en gevoelsgerig met inhoude om te gaan.

Die kritiek was sekerlik nie onverwags nie, maar steeds soos ’n emmer koue water oor die entoesiasme waarmee die Kategeseboekekommissie en SENTIK se personeel die afgelope jare aan nuwe kategesehandleidings vir die Kerk gewerk het.

Ds Etienne Fourie, lid van dié Kommissie, verduidelik die motivering vir die reeks: “Meer as ’n halfeeu gelede, toe ek as kind saam met my ouers kerk toe gegaan het, het ons Sondagskool daaruit bestaan dat ons elke Sondag ’n teksvers uit die kop moes leer. Dié teksvers het gekom uit so ’n groen boekie. Ek onthou op die voorblad was daar ’n skets van ’n herder met ’n skapie of twee en die woorde Laat my lammers wy. Die dominees van daardie tyd het baiekeer oor die teksvers van daardie Sondag gepreek en ek was hulle innig dankbaar as hulle dit doen, want dit was dan my hersiening voor ek in die klas my beurt gekry het om die teksvers op te sê.

“Dinge het egter ernstig geword toe ons in die finalejaarklas beland. Ons moes Dinsdae en Sondae katkiseer en ons het drie boeke gehad om deur te werk: Kortbegrip van ds AJ Barger, Bybelse Geskiedenis van prof JI de Wet en dr LM le Roux, en Kerkgeskiedenis van prof AD Pont.

“Oor die jare het die kategesehandleidings verskillende formate ingeneem, maar een ding wat bly staan het, is dat die Kerk verwag dat kinders by openbare belydenis van geloof die Bybelgeskiedenis, Kerkgeskiedenis, belydenisse en belydenisskrifte van die Kerk onder die knie sal hê. Om by dié verwagting uit te kom, het die Kategeseboekekommissie, wat verantwoordelik is vir die nuutste generasie boekies, ’n baie lang proses gevolg wat goed deurdink is.

“Onder leiding van dr Hannes Beukes is daar eers ’n paar sessies met opvoedkundiges gehou waar die bevatlikheidsvermoë van elke ouderdomsgroep ontleed is. Die teoloë het toe die kerntemas uit die Bybelse geskiedenis, Kerkgeskiedenis en belydenisskrifte  geïdentifiseer. Hierdie temas is in samewerking toegedeel aan die jaargroepe wat bevatlik sou wees om die temas te hanteer. Die verhaal van Dawid en Goliat pas byvoorbeeld baie goed in die graad R- tot graad 3-fase, terwyl ’n mens iets soos die Drie-eenheid eers by die graad 11-groep hanteer. Daar is groot moeite gedoen om te sorg dat AL die belangrikste temas uit die Bybelse geskiedenis, Kerkgeskiedenis en belydenisskrifte oor die hele kurrikulum van graad R tot graad 11 gedek word.

“Die verloop om ’n les op te stel, was kortliks soos volg: ’n Teoloog het ’n teologiese agtergrond oor ’n bepaalde tema opgestel. ’n Opvoedkundige het hierdie inligting verwerk tot ’n les. Grafiese elemente is waar nodig deur kenners bygevoeg. Die les het dan ’n proses van evaluasie ondergaan voordat dit gereed gemaak is vir publikasie.

“In die beplanning is daar besluit om die kategesemateriaal so in te rig dat dit dinamiese, inklusiewe en interaktiewe kategese tot gevolg sal hê. Daarom word die lesse in vier verskillende formate aangebied:

  • ’n Gesinsles is ’n geleentheid waar ouers saam met hul kinders die stof hanteer wat op die ouer en kind, die gesin en hul kerklike betrokkenheid, ensovoorts, konsentreer. Dit kan deur die kategeet of die predikant of albei aangebied word.
  • ’n Faseles is ’n geleentheid waar die hele fasegroep, grade R-3, 4-7 of 8-10, as groep byeenkom vir ’n les aangebied deur die kategeet of ’n kundige persoon met betrekking tot ’n bepaalde aangeleentheid. Hier word temas hanteer wat aktueel is in die lewe van kinders binne daardie lewensfase.
  • ’n Praktykles is ’n geleentheid waar praktiese sake hanteer word, byvoorbeeld besoeke aan ’n ouetehuis, ander kerke, die Museum, ensovoorts.
  • ’n Graadles is ’n geleentheid waar ’n gewone les, soos in die bestaande reeks, aangebied word.

“Dit bly die ideaal dat elke jaargroep in ’n eie klassie sal bymekaarkom, maar krimpende getalle maak dit nie altyd moontlik om dit sinvol te doen nie. In sulke gevalle word aanbeveel dat die volgende jaargroepe saamgevoeg word en dat al die stof dan oor ’n siklus van drie of vier jaar deurgewerk word: graad R tot graad 3; graad 4 tot graad 7; graad 8 tot graad 10; en graad 11.

“Daar is baie goeie redes hoekom ons kategeseboeke lyk soos hulle lyk en hoekom dit belangrik is dat die volle leerplan oor al die jaargroepe gevolg word. Ons het ’n reeks boekies waarop ons met reg trots kan wees en wat dit moontlik maak dat ons die regte kennis, gesindheid en vaardighede by ons kinders sal kweek.”

Intussen het dit duidelik geword dat gemeentes nie noodwendig by hierdie ideaal hou nie. SENTIK het pas ’n verskeidenheid predikante genader met die volgende vrae:

  1. Gebruik jul gemeente getrou ons huidige reeks handleidings?
  2. Is dit enigsins vir jul gemeente nodig om verskillende jaargroepe saam te groepeer? Indien wel, watter materiaal gebruik die onderskeie groepe?
  3. Vind jul kategete die boeke ingewikkeld/selfverklarend/moeilik...?
  4. Enige ander kommentaar oor die handleidings.

Ongelukkig was al die predikante wat genader is nie bereid om op die vrae te antwoord nie. Van dié wat wel gereageer het, gebruik talle wel getrou die nuutste materiaal, en pas dit by hul gemeentes se behoeftes aan soos nodig.

Ds Chris le Roux van Stellenbosch/Worcester antwoord kort en kragtig: “Ja, ons gebruik die huidige reeks. Wanneer ons jaargroepe moet kombineer, roteer ons die boeke sodat die kinders uiteindelik by elke boek uitkom. Ons vind die inhoud nie ingewikkeld of moeilik nie, maar selfverklarend genoeg. Ons is gelukkig met die materiaal.”

Ds Cobus Manders van Bethal stem saam: “Ons gemeente gebruik die huidige reeks kategeseboeke. Ons het kategesekinders in elke graad, so ons het nie nodig om klasse saam te voeg nie. Ek dink die boeke is redelik selfverklarend.” 

Dr Johan van Staden van Sionspoort is ook positief oor die handleidings. “Ons gebruik die handleidings, maar vul dit ruim aan met ander stof. Ons hoef nie verskillende jaargroepe saam te groepeer nie – ons klasse wissel tussen 16 en 28 kinders per klas. Vir ons kategete is die boeke nie te ingewikkeld nie en heeltemal aanvaarbaar maar, soos genoem, ons Kategesewerkgroep doen baie moeite om die stof sinvol aan te vul en self nuwe stof te ontwikkel. Ek kan dus nie kommentaar lewer op gevalle waar ten volle op die reeks staatgemaak word nie.”

Ds Frikkie van Wyk van Montana-Oos sê hulle gebruik die Kerk se kategesemateriaal sonder uitsondering. “Dit was nog nie werklik vir ons nodig om jaargroepe te kombineer nie. In 2018 het ons wel graad 6 en graad 7 saamgevoeg en toe graad 7 se boek gebruik, en vanjaar gebruik die graad 7-klas die graad 6-boek. Sommige van die lesse is wel ’n bietjie lank en die groep-/faselesse word hanteer soos ’n gewone les. Die Kerkgeskiedenisgedeelte van veral die graad 9-boek kan ’n bietjie ingekort word.”

Anita Booyse, kategesehoof en skriba van Waterval Boven, sê hulle maak elke jaar gebruik van die kategesemateriaal wat verskaf word deur SENTIK. “Ons bestel gereeld dít wat ons nodig het vir die jaar. Aangesien ons ’n baie klein gemeente is met min kinders wat kategese bywoon en ook min beskikbare kategete, gaan dit soms moeilik om almal te akkommodeer in hul eie klassie. Daarom is dit soms nodig om verskillende jaargroepe in een klas te hê... dan maak ons maar van een van die handleidings gebruik vir albei groepe, en die volgende jaar weer die ander. Maar ons vind dat die kleiner kinders hul Sondagskoollessies geniet. In die hoër klasse is die inhoud van die lesse meer op die geskiedenis en leiers van ons Kerk geskoei, en ek vind dat die leerders nie so intens daarin belangstel nie. Selfs beskikbare kategete verstaan nie altyd presies wat hulle moet doen en weergee nie.”

Dit bly steeds ’n gemeente se keuse of addisionele materiaal saam met die Kerk se handleidings gebruik word of nie. Ds Erika Ferreira van Bellville verduidelik hul posisie só:  “In ons gemeente gebruik ons die huidige reeks handleidings as basis, en verder ekstra bronne/aktiwiteite/foto’s/video’s soos die  kategeet dit benodig. Omdat ons kategesekinders min is, word van ons klasse gekombineer. Ons het byvoorbeeld graad 9 en graad 10 saam gehad. Dit was uitdagend om dan uit die verskillende boeke iets aan te bied. Die aanbieder het dan gewoonlik self iets saamgestel met wat hulle dink relevant is in die handleidings. 

“Die kategete vind miskien die boeke ‘droog’, maar die probleem word opgelos wanneer op ’n kreatiewe manier gesprekke ontlok word deur vrae, oefeninge of multimedia. Die kategeseboeke is goed, ons moes dit net in ons gemeente ’n bietjie anders begin gebruik om by ons veranderende situasie te pas. Daar is van ons klasse met net een of twee kinders, en dan word aktiwiteite of lesse aangepas om by die behoeftes van die enkele kind(ers) te pas.”

Ds Kotie Mc Donald van Turffontein sê hulle gebruik getrou die huidige reeks handleidings. “Ons het baie min kinders in die kategeseklasse; die meeste is in die laerskool. Daar is nie probleme indien groeperings van verskillende  jaargroepe moet plaasvind nie, ons akkommodeer dit soos nodig. Die kategete gebruik meestal materiaal wat hulle self saamgestel het met hul baie jare ondervinding in kategese vir die onderskeie groepe. Groeperings word meestal vir die laerskoolkinders gedoen. Die kategete vind die boeke selfverklarend. Daar het drie nuwe leerlinge wat Engelssprekend is by die Sondagskool aangemeld. Indien hulle gereeld die Sondagskoolklasse bywoon, sal ons moontlik die gebruik van Engelse handleidings oorweeg, om addisioneel te gebruik.”

Rentia Deysel, kategesehoof van Johannesburg-Wes, sê hulle gebruik ook die huidige reeks. Hulle groepeer nie jaargroepe saam nie. “Ons is nog bevoorreg met genoeg onderwysers. Die boeke vir die laerskoolkinders het soms te veel inligting en is soms wel te ingewikkeld vir die ouderdomsgroepe. Ons pas dus in hierdie gevalle die lesse aan volgens ons eie diskresie. Ons sal graag gedurende die jaar in kennis gestel wil word wanneer grade se boeke gaan wysig. Dit gebeur soms dat ons nuwe kinderboeke bestel vir die volgende jaar, maar dan is die onderwyser se boek in ons besit verskillend.”

Ds Jan van Staden van Bronkhorstspruit bevestig dat sy gemeente slegs die nuwe handleidings gebruik. “Ons moet ongelukkig verskillende ouderdomsgroepe saamgroepeer omdat die getalle van die kategesepligtiges oor die afgelope dekade of wat baie afgeneem het. Ons is ’n ouerwordende gemeente en baie min ouers met kinders trek nog hier in. Ons gebruik om die beurt die Kerk se kategesehandleidings. As ons byvoorbeeld grade 1, 2 en 3 saamvoeg, gebruik ons elke jaar om die beurt die drie groepe se handleidings. Op dié manier benut ons al drie jare se handleidings en word die inhoud van elke handleiding met al die kinders in daardie ouderdomsgroepe hanteer.

“Ons het geen probleem met die inhoud of kwaliteit van die handleidings nie. So hier en daar is daar haakplekke, soos dat nie al die kinders byvoorbeeld toegang tot die internet het nie. Deur die vindingrykheid van ons kategete kan ons egter aanbiedingsmetodes aanpas sonder dat die inhoud van die handleidings verlore gaan.

“As lid van die eindredaksie van die nuwe handleidings kan ek maar net sê wat ons almal reeds weet: Die voortdurende evaluering en aanpassing van die handleidings kan nooit gestaak word nie.”

Dat dit wel moeilik kan raak as daar min kinders in die onderskeie groepe is, is ’n feit. Ds David Barnard van Magaliesmoot verduidelik hul gemeente se dilemma soos volg: “Magaliesmoot het tans nie veel meer as 30 kinders in die kategeseklasse nie. Daar is ses in die belydenisklas en twee graad 10’s. Die belydenisklas en graad 10-groep maak wel gebruik van die handleidings soos deur die Kerk verskaf. Die temas word gevolg soos ingedeel in die handleidings, hoewel die kategete dikwels van die inhoude en die aanbieding daarvan wysig om by ons unieke leefwêreld en die kinders se bevattingsvermoë aan te pas.

“Die res van die leerders word in drie groepe verdeel, en ’n seleksie van temas word uit  die verskillende handleidings gemaak; dit word elke tweede Sondag by wyse van kinderdienste in die saal behandel. Oor ’n tydperk van ’n paar jaar word ‘kernwaarhede’ so gedeel. Die alternatiewe week word daar meer formeel in kleiner groepies met die temas gewerk. Ons ervaring is dat kinders veel meer inneem deur informele byeenkomste as deur formele lesaanbiedings.

“Hoewel die materiaal van hoogstaande gehalte is wat inhoud en aanslag betref, leer ons kinders meer deur visuele en praktiese aanbiedings. As gevolg van die gemeente se uitreikaksies, daag kinders wat nie toegang tot internet of rekenaars het nie (trouens enkele het nie toegang tot elektrisiteit nie), by die kategeseklasse op. Ons aanbiedings en hantering van inhoude moet altyd daarmee rekening hou.

“Ons vind nie die handleidings te ingewikkeld of moeilik nie. Daar bestaan groot waardering vir die materiaal wat geskep is, maar ons kan ongelukkig nie die lesse presies aanbied soos die handleidings voorstel nie. Ons maak dus wel daarvan gebruik, maar beperk.”

Ds Dalene Lourens van Selcourt sê hulle gebruik tans die kategeseboeke, maar vind dit moeilik. “Ons hanteer groepe saam. Die ouers kla baie as die boek vir ’n graad onder of bo hul kind is. Ons oorweeg ander materiaal vir die toekoms.”

Nie almal was gemaklik met ons vrae nie. Ds Pieter Rossouw van Sannieshof antwoord só: “In hierdie stadium is ek ’n bietjie huiwerig om te reageer op die vrae, omdat hier ’n paar verwikkelings in my gemeente was. Ons gemeente probeer wel om op datum te bly met die kategeseboeke en ons kry dit grootliks reg. Omdat die gemeentes se getalle so krimp, is dit nodig om party jaargroepe in een klas te groepeer. Dan word die oudste jaargroep se boek gebruik. Ek is self by die finalejaars betrokke en kan daaroor ’n redelike opinie lewer. Ek het met die klas ooreengekom dat ons wil wegbeweeg van ‘huiswerk’, eerder na ‘voorbereiding’.  Voorbereiding vra groter aktiwiteit en betrokkenheid van die kinders. Dit beteken dat ek saam met die kinders voorberei vir ’n les, en in plaas van antwoorde kontroleer, kan ons eerder ’n sinvolle en aktuele gesprek oor die les voer. Dit gebeur nou byvoorbeeld dat party lesse (byvoorbeeld oor sakramente) nie genoeg leesstof in die kinders se boekie het nie. Ek het begrip daarvoor dat ander kategete nie op dieselfde manier klashou nie, daarom sal ek eerder dan self leesstof afrol om voor te berei (byvoorbeeld uit die belydenisskrifte, die kategeet se boek of ’n vorige jaar se boek).”

Ds Robert van Niekerk van Noordelike Pretoria sê van die drie groepe is daar een wat getrou die boek gebruik vir die enkele kind by hom in die kategeseklas. Die ander doen dit nie. “Die indeling van die gemeente se kategeseklasse vir hierdie jaar is soos volg: Groep 1 is twee graad R’e en twee graad 3’s; groep 2 het slegs een graad 8; groep 3 het slegs een graad 10.

“Die kategeet by graad 8 is die enigste een wat terugvoer gegee het oor die moeilikheidsgraad van die inhoud. Die kategeet vind dat die boek self gemaklik is om te lees, maar dat die wyse waarop die inligting oorgedra moet word, soms moeilik is om toe te pas in die klas. Sommige van die lesse vra dat die klas in groepe moet indeel om so die les se inligting tuis te bring. Dit is besonder moeilik om toe te pas en te gebruik juis omdat daar net een enkele katkisant in die klas is. Dit is ook die rede waarom die kategeet van groep 3 nie die handleiding gebruik nie. Hy het vir baie jare kategese gegee uit die ouer boekies, en alhoewel hy dit nie meer gebruik in die klas nie, het hy die klas op dieselfde wyse ingerig.

“Ek dink as ek moet opsom wat ek gehoor het by die twee wat teruggekom het na my en so oor die algemeen in die gemeente gehoor het uit die verlede, gaan dit oor die grootte van die gemeente se kategeseklasse. Daar is so min kinders dat dit soms moeilik is om te werk met handleidings wat wonderlik sal werk vir groter groepe, maar kleiner groepe soos hierdie sukkel. By die vorige gemeente waar ek was, moes ek die graad 6- en graad 7-klas hanteer. Die twee was gekombineer – nie oor die katkisante min was, maar oor die kategete so min was. Ek het die graad 7-handleiding gebruik en dit het wonderlik gewerk; ek en die katkisante het dit positief ervaar. Dit het ’n bietjie meer as die normale tyd vir voorbereiding geneem, want ek het probeer om ook die graad 6-boek in te bring by graad 7 s’n. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar dit was haalbaar en het goed gewerk vir die groot groep.”

Die kommentare vanuit ringsvergaderings is uiteenlopend. Die ring van Noord-Kaapland het verskeie leemtes uitgewys in die finalejaars se handleiding. Die belangrikste klagte is dat die deel van die Kerkgeskiedenis wat altyd in die handleiding was, weggelaat is. ’n Vergadering van die Ringskommissie het eenparig versoek dat die Kerkgeskiedenisgedeelte weer in die handleiding opgeneem moet word. Die vrae in die formulier wat aan die katkisant gevra word tydens die afneem van openbare geloofsbelydenis, is ook weggelaat en daar is versoek dat dit ook weer opgeneem word. 

Intussen laat weet die ring van Swellendam dat die kategesehandboeke te dik is om deurgewerk te word!

Ten spyte van die emmer koue water, moet ons aanvaar dat nuut gedink sal moet word oor die Kerk se kategesemateriaal. Die teleurstelling is egter veral groot as verneem word van gemeentes wat hoegenaamd nie meer daarin belangstel om ons handleidings te gebruik nie. Ds Petrus Dreyer van die Seestergemeente Brackenhurst verklaar onomwonde soos volg: “Op die oomblik gebruik Seestergemeente Brackenhurst nie een van die Kerk se boekies nie. Die meeste van die onderwysers vind die materiaal moeilik en kompleks. Wat die saak verder bemoeilik, is die feit dat ons jaargroepe moet saamvoeg – daar is ongelukkig net nie genoeg kinders nie. Ek gee byvoorbeeld klas vir die hele hoërskoolgroep (ek het kinders in die klas vanaf graad 8 tot graad 11). Dit is feitlik onmoontlik om vir so ’n diverse groep kinders die Kerk se handleidings aan te bied. Tans gebruik ons materiaal van KidsXpress – onder meer hul Droomlandboekies, die pakkette Jesus sê en Jy is Myne, asook verskillende reddings-, avontuur-, soldaat-, vrugtefees- en tabernakelpakkette.”

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)