Die Hervormer

Ek maak wat ek wil, en jy maak wat jy wil!

Dit verg nie enige debat om te aanvaar dat die Kerk nooit weer sal wees soos wat die Kerk 30 of 40 jaar gelede was nie. Dit is eenvoudig nie denkbaar dat verwag kan word dat alles presies net so moet gebeur soos in die redelik ver verlede nie. 

Die kleredrag van kerkgangers lyk deesdae anders as toe, om maar een opvallende saak te noem. Daar was tye toe broeders en susters apart aan die Nagmaaltafel aangesit het en die liturgie van gemeente tot gemeente presies dieselfde was. Kerkgangers het tydens die erediens gesit behalwe vir die voor- en slotsang, toe skielik tot die slotsom gekom is dat alle liedere staande gesing moet word op grond van die argument dat ’n mens dan beter sing. Toe die gebruik ontstaan het om na die wet en belydenis te sing, was dit asof net Gesang 52: 11 (nou Gesang 260: 11) bruikbaar was na die geloofsbelydenis. Dit het later maar net meganies gebeur, net soos laas Sondag.

Die argument en die pleidooi hiermee saam is nie om alles te wil terugvoer tot gewoontes en gebruike van jare gelede nie, asof daar intussen niks gebeur het en geen nuwe insigte ter sprake gekom het nie. Tog word soms redelik swartgallig oor die kerk van die huidige tyd gepraat, veral in die lig van kerkkrimping en uitdagende tye waarin die kerk sy taak moet volvoer. Ten spyte van veranderde omstandighede wat noodwendig ook kerklike praktyke onder druk plaas en nuwe denke verg, soos om ou waarhede weer nuut te formuleer, moet sonder twyfel ook rekenskap volg oor wat die kerk waarmee ons besig is, nou eintlik is.

Is ons Kerk steeds kerk?

In die kerklike wandelgange word steeds na die eie Kerk as kerk verwys, so staan die eie Kerk bekend: Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Wat is dit wat ’n oënskynlik menslike samesyn tot kerk verander? Ten minste was die eie Kerk van jare gelede ook kerk, net soos die huidige Kerk nie anders bekend is nie en nie anders waardeer wil word nie. As daar dan geen twyfel is nie dat die eie Kerk van nou steeds kerk is, waarin word die onderskeid gevind? Wat maak die eie Kerk, kerk in onderskeiding van enige ander sosiale klub waar mense vir eiebelang byeenkom en sodanige samesyn in stand hou?

Die argument sou wees dat ’n kerk slegs bestaan in soverre daarin geslaag word om kerk van die Woord te wees. Dink net wat dit beteken: Jesus Christus is die Hoof van die kerk, ook van die eie Kerk. Dit beteken verder en dit is die appèl, om deur gesindheid, optrede en interaksie met mekaar so te doen soos wat Jesus sou gedoen het. Dit beteken om telkens te vra: Wat sou Jesus gedoen het? Die belewenis van die dissipels by die see van Tiberias teen dagbreek, toe die ná Paasfees Jesus hulle op die strand ingewag het en hulle nie anders kon nie as om te sê Dit is die Here! (Joh 21: 7), is wesenlik in die kerk. Kerkgangers kan nie dieselfde huis toe gaan as hoe hulle gekom het nie. Die verkondiging van die Woord, prediking wat spreekwoordelik die speelballe van die teologie hanteer, as uitnemende woord wat in die hande van die kerk geplaas is, deurkruis alle weerstand, swaarmoedigheid en pessimisme, hoe anders?

Die kerk, ook die eie Kerk in verhouding tot die een, heilige, algemene Christelike kerk, gaan nie oor die kerk self, oor die instandhouding, oor die na binne gerigtheid van die kerk in selftevredenheid nie, maar breek deur die skanse van geyktheid wat in die verlede gestol het in só het ons altyd gemaak, ongeag. Kerk kan nie anders as kerk van die Here wees nie, en daarom moet inderdaad ernstig gepoog word om kerklik so te leef dat buitestanders die noue relasie tussen Christus en sy kerk kan sien. Kerk is nie ’n organisasie nie, maar ’n gemeenskap van gelowiges waarin geglo word en waardeur gelowiges inderdaad begelei word om nou reeds ’n nuwe hemel te sien.

Tog is alles deesdae nie so reglynig en so eenvoudig nie. Die Kerk is nie so eenstemmig en eenders in handeling as wat van ’n kerk verwag sou word nie. Tog ís dit eenvoudig, want as Christus die Hoof van die kerk is (vgl Ef 1: 22, 23), sou verwag word dat almal sodanig handel, want die verwagting sou wees dat die Bybelse slotsom oor hoe die kerk daar moet uitsien, die ekklesiologie, in noue verhouding tot die Skrif staan. Daaruit sou volg dat om Christus wil, só gehandel word en nie anders nie.

Wat van die Kerkorde?

Die saak kan verder geproblematiseer word wanneer daaraan herinner word dat die Kerkorde in verhouding staan tot die Skrif en die leer oor die kerk, die ekklesiologie wat ’n kerkorde anders maak as die konstitusie van ’n sosiale vereniging. Helaas word  ’n kerkorde deesdae gereserveer vir kerklike onmin wat heel maklik uiteindelik deur die burgerlike regspleging afgehandel word. Met huiwering sou gevra word wat die draagkrag van ’n kerkorde deesdae kan wees? Dalk kan die betekenis van die belydenis van die kerk soos verwoord in die belydenisskrifte ook onder die vraag ingesluit word. Miskien moet die saak nog verder gevoer word, hoe pynlik dit ook al mag wees, met die vraag na die betekenis van die Woord van God in die lewe van die Kerk en in die lewe van ampsdraers en lidmate. Anders gestel: Is die tipering kerk van die Woord ook vir die eie Kerk steeds gepas?

Wie op die kruispaaie van die Kerk stelling inneem en luister na die gesprek in die wandelgange van die Kerk, hoor dit. Daar het ’n wye diversiteit in die Kerk posgevat wat veral op liturgiese gebied waarneembaar is. Wat sou die kerkordelike verwagting dat die liturgie die eenheid van die Kerk moet dien en die identiteit en etos van die Kerk moet bevorder in praktyk beteken?

En die ampte?

Met betrekking tot die ampte is dit veral die amp van die ouderling waar die grootste erosie waarneembaar is. Ouderlinge staan klaarblyklik handewringend op die kantlyn in onsekerheid oor hul ampsplig, wat trouens ook in die Kerkorde uiteengesit is. Dit is egter nie net by die ouderling nie, maar die amp van die predikant en die ywer en entoesiasme wat aan die dag gelê word, is ook onder die vergrootglas. Dit is tog so belangrik om Maandag nie beskikbaar te wees nie, na die uitputting van Sondag se prediking van meesal net een erediens elke Sondag.

Op die gebied van die vergaderings van die ampte is dit veral die ringsvergadering en sy kommissie wat uitgesonder kan word as die terrein wat nie tekenend is van kerklike uitnemendheid waar toerusting, leiding en motivering aan gemeentes in die ring gebied word nie.

Daarmee kom die opskrif ter sprake. In die Kerk is ’n bepaalde independentisme waarneembaar waar veral kerkordelike besluite as van minder belang beskou word. Eie weë word gevolg wat nie noodwendig uiting gee aan besluite en derhalwe aan die etos van die Kerk nie. Dit is nie gelyk aan kerkordelike usansie (die gebruike van die kerk) nie, maar beteken eenvoudig ek maak wat ek wil en jy maak wat jy wil. Dit is ’n rampspoedige koers wat in die Kerk waarneembaar is en uiteindelik alle kerklike dissipline ondergrawe.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)