Die Hervormer

Gereed vir die verskillende fases van die lewe

Tydens Die Hervormer se laaste redaksievergadering van 2018 vra een van die redaksielede: Hoe maak ons as Christenouers ons kinders skoolgereed? Gou loop die gesprek wyer: Hoe maak ons ons kinders gereed vir die verskillende fases en veranderings in hul lewens? En toe: Hoe pas ons self aan wanneer die golwe van onstuimigheid en verandering oor ons spoel?

Kenners is dit eens dat die omgewing waarin kinders grootword ’n belangrike rol speel in hul kognitiewe ontwikkeling: hoe hulle inligting verwerk, konsepte vorm, waarnemings doen en taal aanleer. Daarom is dit belangrik dat kinders van vroeg af blootgestel moet word aan nuwe en interessante omgewings. Hulle moet in kontak kom met ander kleuters en kinders, sodat hulle kan leer dat mense verskil en verskillend optree. Ouers moet hul kinders leer om vrae te vra oor dinge wat hulle nie verstaan nie of waarmee hulle nie saamstem nie, sodat hulle mettertyd hul eie menings kan vorm en kan aanpas by die eise wat die omgewing aan hulle stel.

Spel is vir klein kinders uiters belangrik, sodat hulle kan verken en nuwe dinge kan ontdek. Wanneer hulle speel, kan hulle ook hul nuwe vaardighede inoefen (byvoorbeeld om te teken en taal te ontwikkel). Deur kinders te betrek by take in en om die huis, word hul vaardighede verder geslyp.

Dra jou eie kennis oor aan jou kind deur met hom of haar te gesels, vir hulle te lees en hulle bloot te stel aan nuwe inligting en situasies – neem hulle byvoorbeeld op uitstappies na die dieretuin, koop vir hulle boeke en tydskrifte, lees vir hulle daaruit, of neem hulle biblioteek toe. Ook televisie- en radioprogramme dra inligting oor aan kinders. Daar is ook bevind dat kinders wat kleuterskool bygewoon het, oor die algemeen merkbaar beter in die “grootskool” vaar.

Dit kom eintlik daarop neer dat kinders gelei word om hul eie persoonlikheid te ontwikkel. En benewens die blootstelling aan ander en die ervaring van verskillende omgewings, moet die ouers se eie rol, spesifiek ook as rolmodelle, nie onderskat word nie. Te midde van alles leer kinders om hul eie emosies te beheer, vrese en angs te oorkom, en die vreugde van die babastadium te behou: Dink maar aan die spontane gelag en handeklap en drukkies van ’n een- en tweejarige kleintjie! (DA Louw, DM van Ede en AE Louw se boek Human Development gee uitgebreide inligting oor verskeie aspekte van mensontwikkeling, vanaf die moment van bevrugting tot die finaliteit van die dood.)

Leandra Barreto, ’n spraak-taalterapeut van Pretoria, beklemtoon dat ouers, dagsorgverskaffers en voorskoolse programme ’n enorme rol speel om ’n kind vir skool voor te berei. Die leerproses begin lank voordat ’n kind skool toe gaan. Geen kind word vanself gereed nie – aanvanklik is die ouers daarvoor verantwoordelik om die nodige stimuli te verskaf. Peuters en kleuters gedy waar ouers en familie hulle met liefde en ondersteuning omring, en daar geleenthede is om te leer en die wêreld te ontdek.

Die hoërskooljare

Anneli Venter, Adjunkhoof Akademie van Hoërskool Bekker, sê dat wanneer jy vra of jy en jou kind gereed is vir hierdie volgende fase in sy of haar lewe, jy moet besef dat jou kind jou in die heel eerste plek nou nodiger gaan hê as ooit vantevore. Die tienerjare bring unieke uitdagings, maar ook wonderlike geleenthede. Verseker jou kind veral van jou liefde en ondersteuning.

Waarvoor moet jou kind hom of haar gereedmaak? Nuwe vriende, nuwe onderwysers, nuwe verantwoordelikhede en nuwe geleenthede. Jou kind begin met ’n nuwe, vars blaadjie in die hoërskool. Jou kind gaan blootgestel word aan die diversiteit van die samelewing, geweldige groepsdruk, ’n tyd waarin hy of sy keuses moet maak en verantwoordelikheid vir die keuses moet neem.

Moedig jou kind aan om elke geleentheid aan te gryp, om soveel aktiwiteite moontlik te doen, en om vriende versigtig te kies, want vriende in die hoërskool maak of breek jou kind.

Jou kind moet die vrymoedigheid hê om oor alles met jou te kan praat – die bang, onseker maar ook gelukkige en opwindende dinge. Die hoërskooljare moet pret wees. Sê vir jou kind: Geniet jou maats, onderwysers en aktiwiteite. Moenie toelaat dat iemand jou boelie nie, praat dadelik met iemand daaroor. Hou by jou waardes en wees getrou aan jouself. En ouers moet altyd in gedagte hou dat hierdie die tydperk is waar jou kind blootgestel gaan word aan verskillende idees oor godsdiens, seksualiteit, sosiale aktiwiteite; aan verskillende vriende, sosiale media en die behoefte om “in” te wil wees. Maak die deur oop vir jou kind om vrae te vra en eties-moreel die regte antwoorde en leiding by die huis te kry. Gee jou kind die geleentheid om hom- of haarself te ontdek, behoeftes te identifiseer en te droom oor die toekoms, beroepe en keuses.

Woon jou kind se aktiwiteite by – hulle het nodig om jou daar te hê. Doen saam met jou kind navorsing oor al die uitdagings wat op sy of haar pad gaan kom, en kry die regte antwoorde. Leer jou kind dat daar geen vervanging vir harde werk is nie, dit word altyd beloon. Maak kennis met jou kind se omgewing en onderwysers – hulle speel ’n baie belangrike rol in jou tiener se lewe. Wees daar vir jou kind, stel belang en veral ook in jou kind se akademie. Ouers belê soveel geld in die kind se skoolopvoeding, bestee nou die tyd om jou kind te waardeer en te ondersteun. ’n Ouer en sy of haar hoërskoolkind moet nooit ophou kommunikeer nie, al verskil hulle en stamp kop. Hou aan praat! Ons kinders het behoefte aan sekuriteit, erkenning, aanvaarding, liefde, waardes en kommunikasie. Moet nooit ’n tiener onderskat nie. Beleef en geniet hierdie nuwe fase in jou kind se lewe, en koester dit as ’n waardevolle skat.

Die universiteit wink

In ’n artikel in Lig (2018) vra Andri Burger, ’n sielkundige van Gauteng: Hoe weet jy of jou kind gereed is vir hierdie aanpassing? Sy noem ’n paar sake waarvan ouers kennis moet neem: Weet jou kind wat sy wil studeer? Is jou kind gemotiveerd en doelgerig, of doen sy maar net wat julle (en haar vriende) van haar verwag? Voldoen jou kind aan die nodige vereistes vir die spesifieke vakrigting? Beskik sy oor die nodige akademiese vaardighede en volg sy goeie studiemetodes?

Hoe volwasse is jou kind? Kan sy verantwoordelikheid neem en probleme oplos? Toon sy respek vir gesag?

Is daar voldoende ondersteuningstelsels tot julle beskikking? Weet jou kind waar om aan te klop om hulp indien sy emosioneel, finansieel of akademies nie die mas opkom nie?

Voornemende studente moet goed begryp dat hulle self verantwoordelik is vir hul eie studies. Mariëtte du Plessis, spraak-taalterapeut van Pretoria, waarsku: Dosente sal jou op jou reis begelei, maar om die eindbestemming te bereik, is in jou hande. Van hierdie oomblik af sal jy jou studies op ’n ander en nuwe manier moet benader deurdat jy vir jouself sal moet begin dink, eerder as om van jou dosent – of enige ander gesaghebbende persoon – te verwag om dit vir jou te doen.

Sy benadruk ook: Deur baie te lees, sal jy beter ingelig wees: op verskillende idees bou, vanuit diverse standpunte daarna kyk, ingeligte houdings aanneem en jou algemene kennis verhoog. Lees stel jou in staat om jouself met meer vertroue te kan uitdruk: Daar is nie iets soos ’n goeie skrywer of denker wat nie lees nie!

En verder

Wanneer ons kinders die arbeidsmark betree, hou die veranderings en aanpassings nie op nie. Veral in vandag se ekonomiese klimaat is werkgeleenthede nie vanselfsprekend nie, met die gepaardgaande uitdagings en onsekerhede. Dit is ons verantwoordelikheid as ouers om ons kinders van kleins af te rig en te lei om probleme te trotseer en die lewe met kreatiwiteit, entoesiasme en geloof aan te pak.

’n Groot deel daarvan is die ontwikkeling van ’n morele kode en liefde vir die Skepper van alle goeie dinge. Soos Deuteronomium 11 dit stel: Die voorskrifte en bepalings en gebooie van die Here moet ons lewe vul. Ons moet dit as herinneringsteken vasbind aan ons hande, en dit moet ’n merk op ons voorkoppe wees. Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)