Die Hervormer

Die bekostigbaarheid van kerkwees

Bekostigbaarheid en volhoubaarheid is na afloop van die 71ste en 72ste Algemene Kerkvergaderings twee gonswoorde wat breedvoerige verduideliking en motivering nodig het.

Volhoubaarheid is ’n aangeleentheid wat nie primêr met finansies en strukture verband hou nie, maar ’n sterk en direkte fokus plaas op spiritualiteit en hoe ons ons Christenskap uitleef op plekke waar God sy gemeentes plant. Die realiteit is dat stygende prysvlakke (toenemende styging in lewenskoste) die koste van gemeentewees op ’n dag-tot-dag-basis negatief beïnvloed en in baie gevalle die voortbestaan van gemeentes bedreig: ’n Verhoging in koste plaas bekostigbaarheid aanhoudend onder druk! Die huidige tendense en statistieke binne die werkruimtes van die NHKA toon aan dat gemeentes toenemend sukkel om die basiese items op hul begroting te bekostig: salaris, medies en pensioen van die predikant, belastingverpligtinge, munisipale kostes, onderhoud en instandhouding.

Moderamen 2017.JPG 23Status quo – die bestaande model van kerkwees verkeer onder geweldige druk!
Die bediening en roeping van ’n gemeente kan soos volg omskryf word: Christus, ons Here, neem mense wat vervul is met die Heilige Gees in diens om God se doel met die wêreld te bereik. Die gemeente is dus ’n gemeenskap van gelowiges wat met die Heer, met mekaar en met die samelewing in ’n voortdurende gesprek verkeer. Deur die optrede van die gelowiges kommunikeer die gemeente die blye boodskap van God se liefde en genade met mekaar en die wêreld.

Hoeveel geld (en ander bronne) het die plaaslike geloofsgemeenskap nodig om hul roeping en dienswerk gehoorsaam na te kom en ten volle uit te leef? Daar is gemeentes in die Kerk wat die bediening op ’n bepaalde wyse en in spesifieke kontekste met R3 500 en R15 000 per maand volledig onderhou. Dan is daar ook gemeentes in die Kerk wat nie die vermoë het om hul bediening met R100 000 per maand tot uitvoering te bring nie! Die vraag oor bekostigbaarheid hou dus verband met die volgende: Het ons voldoende finansiële bronne om die bediening op ’n bepaalde plek en binne bepaalde omstandighede te laat gebeur? Volhoubaarheid, daarteenoor, hou verband met die vraag: Hoe lank kan ons met die bediening volhou?

Die volgende faktore en tendense plaas die bediening in terme van bekostigbaarheid en volhoubaarheid onder toenemende druk:

  • Gemeentes met ’n sterk institusionele karakter fokus primêr op instandhouding en leef na binne gerig. ’n Sterk ekonomiese perspektief definieer die lewe van die gemeente. Tot en met die 70ste AKV is die status van ’n gemeente primêr bepaal deur sy ekonomiese lewensvatbaarheid:
    • Voltydse standplaas: Indien 'n gemeente die finansiële vermoë het om 80-100% van die versorgingsvoordeel te bekostig.
    • Deelsortstandplaas: Indien ’n gemeente die finansiële vermoë het om 50-80% van die versorgingsvoordeel te bekostig.
    • Deeltydse standplaas: Indien ’n gemeente die finansiële vermoë het om 0-50% van die versorgingsvoordeel te bekostig.
  • Besluitnemingsprosesse is lank en oneffektief. Snelle en ingrypende veranderinge vra dat besluite vinniger en meer doeltreffend sal gebeur.
  • Administratiewe struktuur is oneffektief of gestol.
  • Die afname in lidmaattal plaas groot druk op die eenheidskoste van kerkwees. Elke keer as een (1) lidmaat uit die gemeente uit wegtrek na ’n volgende een of die Kerk om die een of ander rede verlaat, styg die koste van gemeentewees en word die oorblywende lidmate gedwing om in te staan vir die koste om die bediening te laat voortgaan.
  • Talle gemeentes in die NHKA het nie een enkele kind op die lidmaatregister nie.
  • Kontantvloei in die gemeente verkeer onder groot druk vanweë werkloosheid en veroudering.
  • Vasgeloopte gemeentes toon ’n onvermoë om in die lig van vele uitdagings en die realiteit van bovermelde tendense die nodige aanpassings te maak. Teenoor ’n reaktiewe ingesteldheid wat gemeentes noop om pynlike en ontwrigtende aanpassings te doen, is dit nodig om proaktief in pas te kom met die ritme van nuwe moontlikhede wat die gemeente in staat stel om die uitdagings wat ’n moderne tyd daarstel, te oorleef. Dieselfde goed kan nie oor en oor en bietjie beter en anders gedoen word met die verwagting dat alles in die gemeente gaan verander nie! Aanpassings moet aanhoudend en in tyd plaasvind.

Aanpassings!
Die 70ste AKV het besluit om die klem weg van ekonomiese lewensvatbaarheid terug na die ontwikkeling van die bediening te verplaas. Elke gemeente het nodig om in die lig van die unieke omgewing waar hy werk en leef, verantwoordelikheid vir bediening en roeping te aanvaar: bediening op ’n nuwe manier, in ’n nuwe tyd, vir nuwe mense!

Die tyd het vir die NHKA en gemeentes aangebreek om fundamenteel nuut en anders oor gemeentemodelle en bediening na te dink. Gemeentes word gedwing om hul bediening te herevalueer en die nodige aanpassings te doen, terwyl ringskommissies die verantwoordelikheid het om toe te sien dat die bediening in gemeentes effektief, koste-effektief en volhoubaar is.

Ek verwys hierna as ’n strategiese infleksiepunt: Dit is die punt waarop gebeurtenisse en omstandighede organisasies dwing om hul strategieë fundamenteel te verander. Met die regte handelinge kan ’n infleksiepunt die lanseerpunt vir nuwe groei en vooruitgang wees. As dit egter verkeerd geanaliseer word, kan dit die begin van die einde inlui.

Om aanpassings te doen, vra van elke geloofsgemeenskap om die volgende twee kritieke vrae te antwoord: Wie is ons? (Dit is die vraag wat ons opnuut met ons identiteit in Jesus Christus konfronteer.) En: Waarmee is ons besig? (Dis die faset wat ons konfronteer met die tot uitvoering bring van ons roeping.)

Is ons as geloofsgemeenskap krities, gelowig, oop, eerlik, opreg en nederig genoeg om op hierdie twee vrae te antwoord? Dan volg die aanpassings: Wat moet die geloofsgemeenskap aanleer of afleer om in lyn te kom met God se roeping?

Die Kerkorde en besluite van die NHKA begelei gemeentes om in terme van die skema hiernaas die nodige aanpassings te doen. (Let op dat die skema na verskillende momente verwys wat die aard van die gemeente as dinamiese geloofsgemeenskap respekteer. Die bedoeling is ook nie om op meganies-deterministiese wyse van die skema gebruik te maak nie. Die begeleiding van geloofsgemeenskappe vra na buitengewone pastorale, sensitiewe en organiese invalshoeke.)

Die toekoms van geloofsgemeenskappe
Die enigste geloofsgemeenskappe wat sal oorleef, is dié wat nie net instandhouding en die versorging van lidmate doen nie, maar daarin slaag om ’n proses van radikale transformasie te inisieer. Die veranderende omstandighede waarbinne die Hervormde Kerk leef (Besluit 2, 71ste AKV), noop die Kerk om fundamentele aanpassings te maak. Gemeentes word begelei om te beweeg van ’n model van instandhouding na ’n nuwe, lewenskragtige en roepingsgetroue manier van kerkwees.

Na ’n bestaan van byna 150 jaar (een wat primêr deur instandhouding en na binne gerigtheid gekenmerk was) word van lidmate en gemeentes gevra om missionaal te leef. Wat presies word daarmee bedoel en hoe gaan lidmate prakties daaraan gestalte gee? Hoe gaan die gemeente van die toekoms daar uitsien?

  • Klein en buigsaam.
  • Inklusief en dinamies.
  • ’n Na buite gerigte fokus: transformerend, innoverend, ontsluitend en aanpasbaar.
  • ’n Sterk soeke na waarmee God in gemeentes/kontekste besig is.
  • Funksioneer as relasionele gemeenskap wat liefdevolle verhoudings impliseer.
  • Maak ruimte vir almal – insluitend en gefokus op die gemengde ekonomie van die kerk, en wat die diversiteit van ’n nuwe wêreld reflekteer.  
  • Effektiewe en missionale leierskap (pioniers) wat die toerusting en bemagtiging van lidmate ten doel het.  
  • Passievolle spiritualiteit en gemeentelike samekomste wat inspireer.
  • Funksionele en aanpasbare strukture wat sterk horisontaal ontwikkel is en nie veel koste tot gevolg het nie.
  • Die samelewing het radikaal verander. Gemeentes kan nie langer dieselfde bly nie. Dit is inderdaad nou tyd om nuwe drome te droom. Kom ons droom: Bly wakker en moenie aan die slaap raak nie; droom saam, oud en jonk; hou mekaar vas; wees kreatief en visualiseer nuwe moontlikhede; moenie bang wees om foute te maak nie; eksperimenteer; en bo alles: vertrou die Here van die toekoms!

(Dr Labuschagne is algemene sekretaris van die Sinodale Dienssentrum)