Die Hervormer

Geloof, hoop en liefde

Tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering in Oktober is dr Sanrie de Beer benoem as predikantslid van die Kommissie van die AKV. Sy is die eerste vrouepredikant wat tot die Kommissie van die AKV verkies word. Ons het haar gevra om ’n boodskap vir ons lesers te skryf.

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Ek het al menigmaal oor hierdie gedeelte gepreek. Hoe ouer ek word, hoe meer kry ek begrip vir Habakuk se woorde. Hoe langer die Kerk deel is van my lewe, hoe meer verstaan ek. Dis eers wanneer ’n mens self seerkry of met ander mense se seerkry te doen het, dis eers wanneer jy met jou rug teen die muur staan, dat hierdie woorde van die profeet Habakuk betekenis kry.

Dis op grond van hierdie woorde dat ons praat van Habakuk se “nogtans-teologie”. Dis die teologie wat die profeet Habakuk vir sy mense geleer het nadat die Babiloniërs in die jaar 586 vC die tempel in Jerusalem vernietig het en die room van Juda se bevolking na Babilonië weggeneem het. Alles was vernietig. Daar was niks vir die mense om op te hoop nie. Dan kom Habakuk met sy “nogtans-teologie” wat sê: Al kry jy swaar, al weet jy nie hoe die toekoms lyk nie, nogtans staan God langs jou.

Dis ’n waardevolle les wat Habakuk leer: Geloof maak die toekoms oop. Geloof verbind ons met God, met Hoop en met die Liefde. Hoop? Hoe kan ons hoop wanneer ons weet dat talle gemeentes finansieel swaarkry, krimpende lidmaattalle ’n realiteit is, plaasmoorde deel is van talle mense se ervaringswêreld, baie jong proponente nie die vooruitsig het van ’n beroep na ’n gemeente nie, een derde van die Kerk se predikante deeltyds in die bediening staan en talle predikante onder die aanbevole traktementskale vergoed word? Wanneer jy kniediep in ’n krisis is en hoop verdwyn het, is jou natuurlike reaksie om na die ou bekende terug te verlang. As alles tog maar net kon bly soos dit was. As die Kerk tog maar net nog deur die regering beskerm kon word. As elke gemeente tog maar net soos in die verlede kon floreer met groeiende lidmaattalle en finansies nie ’n probleem was nie. As...

Soms wens jy dinge kon maar bly soos dit was. Dit was maklik toe die Kerk vir jou kon sê wat reg is en wat verkeerd is. Kon uitstippel hoe die moets en moenies lyk. Dit sou maklik wees as die Kerk ’n finale uitspraak oor byvoorbeeld die saak van homoseksualiteit kon maak, die saak vir altyd in kanne en kruike kon sit. Nou sê die Kerk ons moet met mekaar oor die saak gesels binne die pastorale ruimte van gemeentes. Gesels met mekaar en met mense, nie oor hulle nie. Laat Liefde die maatstaf wees. Die Kerk het nie meer Ordereël 4 wat ons Kerk as ’n volkskerk definieer nie. Die Kerk praat van missionale bediening en uitreik na buite. Vreemde woorde wat soms vreemd op die oor val. Die Kerk sê ons kan nou VONKK-liedere in die erediens sing. Die Kerk sê ons kan na ander maniere van Nagmaalbediening kyk – saamsit om ’n Nagmaaltafel is nie noodwendig nie enigste manier van doen nie. Hoe kan ons praat van hoop in hierdie tyd as alles om ons verander, niks meer dieselfde is nie? As niemand daaroor kan stry nie dat die Kerk ’n krisistyd beleef en die toekoms vir ons onbekend en donker lyk?

Ons kan bly terugkyk en terugverlang na wat was, of ons kan toelaat dat die krisistyd ons vorentoe laat kyk. Daar is een lewensreël wat ’n mens kan vertrou: ’n Krisis word altyd deur ’n na-krisisfase gevolg. Dit is in dié fase dat vernuwing wag. Waar jy die vermoë ontwikkel om nuwe moontlikhede raak te sien en te ontgin. Die Here waarin ons glo, is ’n Here van nuwe moontlikhede. Paulus praat in sy gebed In Efesiërs 3: 20 van God wat deur sy krag in ons werk en magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink. In hierdie Here glo ek met my hele hart. Miskien het Habakuk ook iets van hierdie Here verstaan: Al lyk alles donker, nogtans is daar lig. Al lyk dit of God ons alleen gelos het, nogtans is Hy daar. Al lyk alle deure nou toe, nogtans glo ons aan God wat nuwe deure sal oopmaak. Dis dié Here waarin ons glo, op wie ons ons hoop bou en aan wie se Liefde ons onsself kan toevertrou.

In my eie gemeente, ’n studentegemeente, worstel ons ook met ons eie probleme. Studentegetalle wat krimp omdat die Kerk se lidmaatgetalle krimp, die omgewing wat met rasse skrede besig is om te verander, en kampusonrus wat nie opgelos word nie. Hierdie omstandighede dwing ons om nuut te dink oor kerkwees. Een aand kom ek by die huis en deel my eie moedeloosheid en radeloosheid met my wederhelf. Ek wens ek het al die antwoorde gehad,was my versugting. En toe sy wyse woorde: Wat is die vraag nou weer?

Daar het vir my ’n lig opgegaan. Ons hardloop partykeer soos afkophoenders agter antwoorde aan, maar ons weet nie eens meer wat die vraag behoort te wees nie. Dalk gaan dit ook vir die Kerk nie noodwendig oor al die regte antwoorde nie, maar dat ons ten minste die regte vrae vra. Is ons besig om Koninkrykswerk te doen? Wys ons doen en ons praat dat ons inderdaad glo in ’n Here wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink? Doen ons Liefde?

Hoe moeilik kan dit in elk geval wees om maar net voort te gaan om mense lief te hê namens Christus? Nadat ons die Algemene Kerkvergadering gepas met ’n gesamentlike Nagmaal afgesluit het, kon ek nie anders nie as om vir myself te sê: Hierdie mense is my mense. Hulle is my hartsmense. Dit was die blywende indruk wat die 71ste Algemene Kerkvergadering op my gelaat het. Ons dink nie dieselfde nie en ons doen nie noodwendig dieselfde nie, maar ons het iets gemeen: Ons is saam Kerk, koninkryksmense wat die voorreg het om in God se koninkryk te mag werk. Dis die liefde van my hartsmense wat my dapper genoeg maak om Sondag vir Sondag op ’n kansel te staan en te sê: So sê die Here. Dis die liefde van my hartsmense wat my laat vashou aan die hoop dat daar ook vir ons Kerk ’n plek, ’n opdrag en ’n toekoms is ten spyte van die werklikheid om ons wat dit weerspreek.

My droom vir ons Kerk is dat ons sal bly glo in ’n magtige Here, sal bly hoop dat ons Here vir ons nuwe deure sal oopmaak, en dat ons liefde vir mekaar ons sterk en dapper sal maak om Koninkrykswerk te doen.