Die Hervormer

Stukkende kerk, ongeskonde geloof

Donderdag 11 April 2019 was ’n normale Donderdag. Maar dié normaliteit sou gou op sy kop gekeer word vir die mense van Gemeente Wesmoot in Pretoria.

Ds Rudi Botha, emeritusleraar verbonde aan dié gemeente, vertel dat die WhatsApps hier teen 10 uur begin vlieg het op die groepie wat daar vir kerkraadslede bestaan. Die boodskappe vertel van moeilikheid in Gomorrah, die informele nedersetting oorkant die kerkgebou. Die moeilikheid raak al hoe erger. ’n Ouderling wat oorkant die kerk bly, berig dat die skare besig is om die gekleurde loodglasvensters van die kerkgebou stukkend te gooi.

Ds Botha word gemaan om nie na die kerkgebou te kom nie, dis te gevaarlik. Hy vertel van die frustrasie om gebeure te probeer volg op grond van die boodskappe wat deurkom. Hy bid: Here, laat ons kerkgebou net nie afgebrand word nie! Die nuus versprei. Al wat beangste lidmate kan doen, is om te bid dat hul kerkgebou nie vernietig word nie.

Ds Botha kan later nie meer net by die huis sit nie. Hy en ’n kerkraadslid klim in sy bakkie en ry kerk-gebou toe. Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) probeer manmoedig die kerkgebou beskerm. Later daag die Polisie op. Skote klap, binne en buite die kerk. Uiteindelik kan hulle die kerk ingaan. Beeld (13 April 2019) beskryf die toneel binne in die kerkgebou treffend: Bloedspatsels, glasskerwe, gebreekte kerkbanke en ’n rubberkoeëldoppie langs die Kanselbybel wat van die preekstoel gesmyt is. Eens vrolike gekleurde vensters gaap soos leë oogkaste na die straat se kant terwyl geskeurde blindings in die wind deur die gate wapper. ’n Mistroostige toneel.

Die betogers het ’n tuisgemaakte Molotov Cocktail gegooi om die kerkgebou aan die brand te probeer steek. Genadiglik was daar paraffien in die bottel en nie petrol nie, want die petroldampe sou baie gouer vlam gevat het en onmeetbare skade aangerig het.

Lidmate daag een vir een op. Natuurlik is daar baie woede, maar die oorheersende gevoel, volgens ds Botha, is een van hartseer en verslaenheid. Elke liewe lidmaat vind die toneel wat hulle begroet hartverskeurend.

Stadig, stadig begin iets anders gebeur: ’n Stil maar baie sterk stuk vasberadenheid vat pos. Ons gaan nie lê nie. Ons gaan nie moed verloor nie. Ons sál aanhou om gemeente van die Here te wees. Hier sál Sondag ’n erediens plaasvind.

En dit gebeur. ’n Bonte mengelmoes stoele word uitgepak onder die afdak langs die kerkgebou. ’n Draagbare klankstelsel en ’n elektroniese klawerbord word ingespan. Lidmate sing twee-twee uit Liedboeke. Ds Botha sê dat hy doelbewus kies om die erediens op die bekende Hervormde patroon in te rig: Votum; Seëngroet; Lofsang; Wet; Skuldbelydenis; Geloofsbelydenis; Skriflesing; Prediking; ensovoorts. ’n Stukkie normaliteit in abnormale omstandighede.

Beeld (15 April 2019) berig soos volg oor die erediens: Ds Botha het die gemeente herinner aan die les van Jesus se laaste oomblikke aan die kruis uit Lukas 23 vanaf vers 26. “Emosies loop hoog, ons voel verontreg, hartseer as ons die verwoesting in ons kerk sien... maar ons kan stil word en hieruit leer,” sê Botha. Jesus vergewe alles. God verstoot en verdelg nie, Hy vergewe en red. Dis belangrik om te onthou, het Botha gesê. “By die kruis het Jesus ons geleer om te vergewe.” Hy het ’n beroep gedoen op die gemeente om nie net bloot te vergeef en te vergeet nie, maar ook om vry te wees sodat hulle kan voortgaan om die Here se werk te doen en steeds uit te reik na ander.

Ds Rudi sê dat daar Sondag omtrent 150 mense in die erediens was en wat hom opgeval het, was ’n hele aantal mense wat, vir watter rede ook al, ’n tyd lank ver van die Kerk geleef het, maar nou weer teruggekom het en vasberade is om die gemeente te help om weer op te staan en aan te gaan.

’n Kerkgebou is stukkend. Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, die Gemeenskap met die Heilige Gees is ongeskonde.

*** Ds Etienne Fourie het op ’n treffende manier iets van die verslaenheid, die hartseer en verlies van hierdie gemeente vasgevat. Daarmee saam kan ’n mens ook die woede van gemeentelede verstaan: Hoekom ’n kerk breek as jy kwaad is vir politici! Ons woon in ’n stukkende wêreld, ’n wêreld vol onreg en ongelykheid, ’n wêreld waarin mense soms op die onverstaanbaarste maniere hul ongelukkigheid uitdruk.

Lees ons egter van hierdie gemeente met die stukkende kerk en die ongeskonde genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, die Gemeenskap met die Heilige Gees, word ons vervul met hoop. Lees ons van mense wat ver van die Kerk begin beweeg het en wat nou terug is en saam bou, wil ’n mens juig! Soms is dit juis ’n krisis, iets soos stukkende ruite en gebreekte banke, ’n Kanselbybel wat op die grond gesmyt is, wat jou weer bewus maak van die God wat jy aanbid. Maar net so waar is die feit dat dit heel dikwels juis ’n krisis soos hierdie is wat jou help om weer te leer van vergewe en vergeet, van opstaan en voortgaan met die werk van die Here. Soms is dit juis ’n krisis soos hierdie wat ons laat verstaan wat dit beteken om sewentig maal sewe keer te vergewe.

Mag almal van ons uit hierdie gemeente se krisis leer om te vergewe, te versoen en in die liefde van God te oorwin. (Redaksie)

(Ds Etienne Fourie is een van Die Hervormer se subredakteurs  en leraar in Gemeente Kempten)