Die Hervormer

Die herdenking van die Reformasie – ’n jaar later

Een jaar ná die 500-jarige herdenking van die Reformasie is die vraag watter aspekte van die Reformatoriese teologie in die volgende dekade beklemtoon moet word. Wat hier aangebied word, is natuurlik ’n subjektiewe keuse, maar ek is daarvan oortuig dat die volgende temas opnuut prominensie moet kry, sou ons nie tot óf ’n charismatiese sekte óf ’n sekulêre welsynsorganisasie wil verkrummel nie.

Een groep mense in ons Kerk meen dat die Engelse charismatiese spiritualiteit die oplossing is vir die kwynende belangstelling in godsdiens. ’n Ander groep meen weer dat ons die verpligting het om kerk en teologie te sekulariseer. Bybelse en gevestigde teologiese begrippe moet verkieslik met ekonomiese terminologie vervang word, soos byvoorbeeld roeping met visie en missie. Daarbenewens word geglo dat die gebruik van begrippe uit die burgerlike samelewing die kerk meer aanvaarbaar sal maak, soos onder andere om ’n verskil te maak in plaas van liefde te beoefen. Ek is absoluut oortuig dat die self-sekularisering en verburgerliking van die kerk die ondergang van die kerk net gaan verhaas. In die lig hiervan wil ek aan die hand van ’n paar voorbeelde aantoon hoekom ons nie van die Reformatoriese teologie afstand moet doen nie.

Die verstaan van God

Die sentrale vraagstelling vir enige godsdienstige mens is, wie is God? Mense wil weet wat hulle van Hom kan verwag en hoe Hy op ons doen en late reageer. Die Reformatore het tot die konklusie gekom dat ons God en sy wil nie ken op grond van drome of openbarings in die natuur of persoonlike ontmoetings met Hom nie. Ons ken God soos wat Hy Hom in Christus se menswording, kruisiging en opstanding geopenbaar het – en daarvan lees ons in die Bybel. God wat Hom in Christus bekendmaak is goed, barmhartig en genadig. Ons hoef Hom nie te vrees nie en het ook nie nodig om Hom te manipuleer om vir ons goed te wees nie.

Diegene wat meen dat die televisie-evangeliste die “ware evangelie” verkondig, luister nie goed genoeg nie. Vir hierdie “profete” is God ’n knorrige wreedaard wat mense straf met droogtes en swak regerings. Om Hom tot goedheid te dwing, moet ons in massas bid om genade en afsien van allerlei morele oortredinkies. Hierdie teologie van vrees en afpersing pas tog nie by mense wat kan dink nie! In hierdie tyd waar die Afrikaner-ateïste daagliks, briefskrywend, in die dagpers die Christelike godsdiens bespotlik maak, kan ons nie bekostig dat ’n verwronge Godsbeeld aan die krities-denkende publiek voorgehou word nie. Luther se insigte rakende die “verborge” en die “geopenbaarde God” – die God wat slegs deur die kruis reg geken kan word – moet vandag verkondig en verdedig word, sodat die Christelike geloof nie die spot van die nasie gemaak word nie.

Kritiese denke

Die Reformasie het ontwikkel uit die disputasie-stelsel van die laat-Middeleeue. ’n Disputasie was ’n kritiese debat na aanleiding van ’n klomp stellings wat iemand oor ’n godsdienstige tema opgestel het. Ons leef in ’n tyd van persvryheid en vryheid van spraak. Tog blyk dit dat daar min sprake is van kritiese debatvoering. Die maghebbers dwing eenvoudig hul wil af op die ander. Wanneer gaan daar ’n kritiese debat wees oor die sekularisering van die kerk? Wanneer gaan ons krities vra of die kerk van Jesus Christus iets soos ’n “korporatiewe identiteit” het? Is om ’n verskil te maak werklik slegs ’n ander woord vir Christelike naasteliefde, en is die aanhoudende oproep tot “selfliefde” deur die “celebrities” werklik met die evangelie versoenbaar? Sonder kritiese denke het die kerk as kerk nie ’n toekoms nie!

Om reg te onderskei

Een van die sentrale insigte van die Reformasie is om reg te onderskei – te onderskei tussen wet en evangelie, moraliteit en geloof, asook politiek en kerk. Wie alles van die Bybel op één lyn wil plaas, of alles deurmekaar wil roer, maak van die evangelie ’n stuk moralisme en van die kerk ’n instansie wat ’n paar goeie waardes en deugde moet bevorder. “Inklusiwiteit” is ’n goeie deug, maar dit is tog nie die somtotaal van die evangelie nie. “Om ’n verskil te gaan maak” het sekerlik met goeie bedoelings te make, maar dít is nog nie geloof in Christus nie. Om hierdie rede kan kerklidmate wat Christus as gawe ontvang, en Christus as voorbeeld navolg, baie méér in terme van welwese vermag as ’n organisasie wat nie algeheel ingestel is op liefde vir die naaste nie.   

Vreugde en blymoedigheid

Ons lewe tans onder negatiewe omstandighede in hierdie land. Dit is nog net hier en daar dat mense skoon water het, waar die rioolstelsel daagliks funksioneer, waar belastinggeld nie opgesteel is nie en waar mense veilig voel in hul eie huise. Die verval van die land maak mense negatief, morbied en kwaad. Dit is alles te verstane. Die kenteken van die Christelike geloof is vreugde, en dié van ongeloof is swaarmoedigheid. In hierdie tyd sal dit duidelik word hoe standvastig ons geloof is. Om hande in die lug halleluja te skree sonder om te dink, gaan nie lank hou nie. Dit is juis in hierdie moeilike tyd dat Reformatoriese kerkmusiek ’n waardevolle rol in die geestestoestand van ons mense kan speel. Musiek wat woorde begelei wat troos en bemoedig, wat ons help om die misteries van die geloof te verwoord, en wat ons laat hoop en laat liefhê, is wat ons in hierdie tyd nodig het. Ons moet daarom asseblief nie die skatte van die Reformasie verruil vir dinge wat nie werklik troos kan bied nie en uiteindelik nie die storms van die lewe kan oorleef nie.

(Prof Natie van Wyk was koördineerder:

ekumeniese skakeling tot aan die einde van September 2018)