Die Hervormer

Burgerlike verantwoordelikheid – om ’n verskil te maak

As mense regte het, is daar seker ook pligte wat algemeen geldig is wat op die skouers van individue rus. Die idee van selfverantwoordelikheid kom immers uit ons Christelike tradisie. Hoe raak ons prakties betrokke by die skep van hoop?

Die Grondwet van Suid-Afrika is gegrond op waardes van gelykheid, geregtigheid en menswaardigheid. Al is dit sekulêr van aard, gee dit nietemin ruimte vir almal wat God sien en hoor, om met oortuiging saam te stem en saam te doen. Aansluitend daarby, om dit dan te doen met ’n ingesteldheid van omgee, sonder enige voorwaardes.

Die universele deklarasie van menseregte het die vraag laat ontstaan: As mense inderdaad regte het, is daar dan ook pligte wat algemeen geldig is wat op die skouers van individue rus? Hieruit het verskeie dokumente al die lig gesien wat spesifiek verwys na individue se pligte en verantwoordelikhede teenoor hul gemeenskappe. Om ’n paar te noem: Dis om uiteindelik ’n kultuur van vrede en sekuriteit te bevorder; om in te gryp waar menseregte geskend word; om korrupsie uit te roei; om ’n eties gesonde gemeenskap te bou; en om kollektief te sorg vir deelname aan plaaslike en nasionale regering.

’n Berig in die Paarl Post sê die evolusie van sosiale verantwoordelikheid het veroorsaak dat daar wegbeweeg word van die model van slegs filantropie, na uitkomsgebaseerde projekte en substansiële beleggings in volhoubaarheid.

Ons kan as burgers van ons dorp nie meer op die kantlyn sit nie. Al is ons soms ontnugter deur faktore waaroor ons nie beheer het nie. Die meeste van ons weet wat ons oortuigings in die lewe is... maar dit vat dúrf (guts) om daardie oortuigings deur te voer, ten spyte van moontlike klippe in die pad. En soos ds Willem Sauer in ’n vorige redakteursbrief gesê het: Hierdie lewe is juis vir avonturiers wat bereid is om te waag en nuwe horisonne te verken. Soms beteken dit om iets uit jou bekende, gemaklike vaarwater te doen. Ons dorp het uiteenlopende karakters, tog is ek baie bewus daarvan dat ons mense kan saamstaan, vasstaan, deurdruk en vasbyt. Só ’n gemeenskap maak gemeenskapsorganisasies (soos die Sakekamer) se hande sterk, hou hul arms in die lug en maak dat ons graag die ekstra myl loop.

Deur so saam te staan en saam te werk na oplossings wat tot almal se voordeel strek, skep ons ook ons eie kollektiewe bedingingsmag. Dit spruit uit ons ingesteldheid om sosiaal verantwoordelik te wees, met ander woorde, elke individu besluit om op te tree tot voordeel van die breë gemeenskap. Dit is vir my ’n riem onder die hart om aanhoudend te sien dat daar burgers van ons dorp is wat deel van hierdie span wil wees, wat hulle daarvoor beywer om ons dorp te beskerm, op te bou en te ontwikkel.

Ek voel ook soos Flip Buys van Solidariteit wat sê hul aksieplanne is doenplanne en moet asseblief nie as blote bedelplanne gesien word nie. ’n Doenplan het egter doenménse nodig. Ons wil baie graag hê dat ons gemeenskap se burgers betrokke moet raak by die Sakekamer se aksieplanne van hoop.

Ons moet wel self beheer neem oor dit waarop ons hoop. Die idee van selfverantwoordelikheid kom uit ons Christelike tradisie. Jy ontvang en aanvaar ’n roeping, en is dan self verantwoordelik om dit uit te voer.

Ons kan nie sê as gevolg van swak munisipale bestuur of aweregse politiek kan ek nie my roeping uitvoer, of het ek my hoop verloor nie. Die rol van burgerlike organisasies (en van elke burger) word al groter, ook om ons regte op te neem.

Burgerlike politiek is praktiese politiek. Dis anders as partypolitiek waar jy net een maal in vyf jaar in die geheim ’n kruisie moet trek. Met burgerlike politiek moet jy egter betrokke wees, saam kan werk na ’n gemeenskaplike doelwit. Jy raak, met ander woorde, prakties betrokke by die skep van hoop.

Negatiwiteit beroof ons van dié hoop. ’n Negatiewe uitkyk mag nie vastrapplek kry nie. Negatiwiteit skep sy eie momentum, dit raak aansteeklik en vernietig hoop.

Die bekende Jo Black sing die volgende:

Hoop, dis die taal van ’n hart...

Dis as ons harte na mense terugdraai.

Hoop, wat is hoop?

As jy struikel, sal jy weer opstaan.

Hoop, wéés die hoop.

Steek jul hande uit na mekaar...

Bring die hoop weer terug...

 

Kom ons dryf handel in hoop sodat ons die essensie van ons doel op aarde (en in ons gemeenskap) kan bereik: om ’n verskil te maak!

 

(Mnr Wiets Botes is voorsitter

van die Waterbergse Sakekamer)