Die Hervormer

Die reg op vryheid van uitdrukking

Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, aldus artikel 16(1) van die Grondwet van Suid-Afrika. Hierdie fundamentele reg, ook bekend as vryheid van spraak of spraakvryheid, hoewel dit ook ander uitdrukkingsvorme soos simbole, kleredrag en kuns insluit, word wyd beskou as die spilpunt waarom ’n grondwetlike demokrasie draai.

Volgens die Grondwethof is die veronderstelde gevolg van die artikel 16-reg ’n meer verdraagsame gemeenskap. Hierdie reg is ongelukkig dikwels die eerste slagoffer van despotisme, tirannie en outokrasie, terwyl die gereelde misbruik daarvan op die eerste tekens van anargie kan dui. Die realiteit is dat die beskerming en toepassing van spraakvryheid onontbeerlik is vir ’n kerngesonde samelewing – in weerwil van die tradisionele aandrang tot die teendeel as sou dit die teosentriese werklikheidsbeskouing van die kerk kon bedreig.

Maart hoofberigVerdraagsaamheid
Jou persoonlike ingesteldheid teenoor spraakvryheid gee soms meer van jouself weg as wat jy dalk geredelik sou toegee en dit ontbloot genadeloos die vlak van jou verdraagsaamheid. Dit geld vir alles wat ons sê, én vir hóé ons dit sê, maar die lakmoestoets is ons reaksie op (en ons hantering van draers van) idees, opinies en standpunte wat in stryd is met ons eie, diepgewortelde oortuigings. Die pynlike waarheid is dat ons nie van nature geneig is om iemand se reg om van ons te verskil baie hoog te ag nie; inteendeel, die meeste van ons vind dit bitter moeilik om ander se standpunte hoegenaamd te respekteer of te probeer insien. Die clichéagtige ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om dit te sê met my lewe verdedig (gewoonlik toegeskryf aan Voltaire, maar eintlik deur sy biograaf uitgedink), is meestal niks meer as ’n abstrakte ideaal nie.

Dit is haas onmoontlik om spraakvryheid en godsdiensvryheid los van mekaar te bedink. Die reg op die vrye uitlewing van godsdiens is ’n reg wat gereeld in konflik kom met die reg op spraakvryheid. Onverkwiklike bekgevegte die afgelope jare hier te lande bevestig al hoe meer wat sommige lankal vermoed, naamlik dat anti-fundamentalistiese gelowiges oor die algemeen veel meer verdraagsaam is as fundamentalistiese ongelowiges (oftewel “sekulêre fundamentaliste”), sowel as fundamentalistiese godsdienstiges (wat in sy ekstreme vorm aan ’n kategorie van boosheid van sy eie behoort). Enige vorm van fanatisme of ekstremisme het natuurlik die neiging om sy aanhangers te isoleer en uiteindelik word alle geloofwaardigheid ingeboet – maar nie voordat heelwat skade aangerig is nie (met styl wat voorkeur kry bo substansie en meriete – ’n geval van “swak argument, skree hard”). Ironies genoeg word die reg tot spraakvryheid dikwels ingespan om die einste reg aan te val.

Beperkings op die reg
Soos die ander regte in hoofstuk 2 (die Handves van Regte) van die Grondwet, is die artikel 16-reg nie absoluut nie. Iemand mag tog nie sonder rede in ’n volgepakte teater uitroep Brand! nie. Die reg op vryheid van uitdrukking bevat alreeds interne beperkings soos onder andere die beperking op haatspraak wat leed aanhits (met spesifieke verwysing na ras, etnisiteit, geslagtelikheid en godsdiens) in artikel 16(2)(c). Beperkings op fundamentele regte word ook deur ’n algemene beperkingsklousule (artikel 36) gereël, en die reg kan verder in sekere gevalle deur ander regte getroef word.

’n Trae ontwikkeling
Vir min of meer die reg om inligting vry en openbaar te deel, het Jesus in onguns geraak by die owerhede van sy tyd. Vir baie eeue na Christus was spraakvryheid steeds nie hoog op die agenda nie. Die Reformatoriese vaders het die beperking op die reg om gehoor te word dapper uitgedaag en so ’n reuseslag geslaan vir persoonlike vryheid; maar hulle het nie noodwendig self teëspraak goed hanteer nie. Die 17de-eeuse filosoof John Locke, allerweë beskou as die grondlegger van die moderne regstaat, was op die voorpunt van die erkenning van fundamentele regte. Karl Barth, met ’n onblusbare drang na geregtigheid en naasteliefde, was een van die eerste sistematiese teoloë wat spraakvryheid waarlik hoog aangeslaan het. Barth was egter self ook lugtig vir die risiko’s aangesien dit geleenthede bied vir leë, nuttelose en gevaarlike woorde om gehoor te word.

Waarheid en menswaardigheid
Ondanks die aanvanklike (oor)versigtigheid vanuit die geledere van die kerk, wen die erkenning en beskerming van fundamentele regte toenemend veld – ook binne die kerk. Voortvloeiend uit die driehoeksverhouding mens-God-medemens, aangevuur deur die etiese imperatief en die eise van die liefdesgebod, word die Christelike strewe na die waarheid en die behoefte aan menswaardigheid by uitstek gedien deur die reg op spraakvryheid.

Die vryheid om oop en eerlik ’n opinie te waag of ’n uitspraak te maak, is onontbeerlik vir enige opregte soeke na die waarheid – ’n waardige ideaal vir elke Christengelowige. Enige poging om die inhoud van spraak aan bande te lê (byvoorbeeld deur middel van drakoniese muilbandwette), vermag gewoonlik niks anders nie as om die waarheid te onderdruk.

Die reg op vryheid van uitdrukking kan wel in sekere gevalle in konflik kom met die reg op menswaardigheid (artikel 10 van die Grondwet), maar meermale lei spraakvryheid juis tot die handhawing van menswaardigheid. Die regsfilosoof Ronald Dworkin wys daarop dat die vrye vloei van idees wederkerig voordelig is, aangesien dit die menswaardigheid van sowel die gewer as die ontvanger ag. Hierdie beginsel was waarskynlik die impetus agter die (ietwat omstrede) artikel 16(1)(b), wat spesifiek voorsiening maak vir “die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra” (eie beklemtoning). Om inligting, nuus, idees, opinies, kuns en navorsingsresultate van volwasse mense te weerhou, en hulle sodoende die geleentheid te ontneem om ingeligte besluite te neem, is (normaalweg) nie moreel verdedigbaar nie en beskik oor al die potensiaal om enige persoon se menswaardigheid aan te tas.

Met dit alles gesê, bly die ongemak knaag dat die reg op vryheid van uitdrukking dikwels gans te gerieflik as ’n regverdiging aangebied word vir venynige uitsprake en laakbare optrede wat enorme skade kan aanrig; gevolglik moet oordeelkundig en verantwoordelik daarmee omgegaan word. Al het ’n uitspraak (of enige ander vorm van uitdrukking) die beperkingstoets, soos vereis deur die Grondwet, geslaag, is dit nie ’n groen lig om te kwets, te beledig of te verkleineer nie. Betekenisvolle dialoog en diskoers hou immers altyd rekening met ander se sensitiwiteite – die reg om iets te doen, beteken tog nie ek móét dit doen nie. Ewe-eens, wat ek ’n reg het om te sê, is nie noodwendig die régte ding om te sê nie. Ons vergeet straks veels te gereeld die belangrikste deel van die reg op spraakvryheid – die reg om stil te bly.

Kommentaar