Die Hervormer

’n Christelik-etiese perspektief op massa-aksie en protes

Ongeregtigheid laat mense magteloos voel. Ons het tot die besef in Suid-Afrika gekom dat daar blykbaar geen perke is aan die korrupsie en onreg waartoe sekere mense en politici in staat is nie. Met korrupsie, armoede, werkloosheid en misdaad wat hoogty vier, raak die onreg in die land elkeen van ons persoonlik. Die vraag is nie meer óf ons daaraan blootgestel gaan word nie, maar wanneer en in watter mate.

 

Korrupsie lei ook tot swak dienslewering en die verval van infrastruktuur. Basiese behoeftes soos behuising, water, elektrisiteit en sanitasie is op die spel. Die hartseer is dat die armste van die armste mense die meeste ly onder die pyn van ongeregtigheid. Werkloosheid en armoede lei tot gebroke en verskeurde gesinne. Kinders en oumense word oorgelaat aan hul eie lot, en bedelary of diefstal bly vir baie jongmense die enigste opsie vir oorlewing.

Die groot gaping tussen ryk en arm, wat daagliks in ons land toeneem, berei die kruitvat voor vir ’n revolusionêre reaksie, waar die massa armes eenvoudig rebelleer teen die sisteem en die klein groepie rykes verantwoordelik hou vir die ellende. Die rede waarom sommige arm en ander ryk is, kan egter nie altyd toegeskryf word aan onreg nie. Die feit dat diegene wat nie bereid is om te werk nie, ook nie sal eet nie (luiheid), speel meermale ook ’n rol in die verdeling van welvaart. Ons vraag is egter wat die Christen se reaksie op onreg behoort te wees en of massa-aksie geoorloof is.

Individue is magteloos

Die potensiële stryd is in hierdie sin nie tussen blank en nieblank of tussen mense van verskillende etniese afkoms nie, maar soos in enige historiese revolusie tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Dit is iets van hierdie reaksie wat ons waarneem tydens massaprotes of massa-aksie. Die individu wat uitgelewer voel, kan die onreg nie langer ontken nie, kan ook nie vlug nie, en al opsie wat oorbly, is om dit op die een of ander wyse te beveg. Omdat die probleem egter groter is as die individu en individuele protes min of geen effek het in terme van ’n korrupte sisteem nie, is die aangewese uitweg om ander individue wat onder dieselfde onreg ly, saam te snoer en in massa op te tree.

Natuurlik is ook nie alle massaprotes die resultaat van onreg nie, maar politici misbruik dikwels hierdie natuurlike sosiale proses om met behulp van ideologie mense op te sweep en massa-aksie te misbruik vir eie politieke gewin. Ons vraag is of massaprotes as reaksie op onreg geoorloof is. Is dit reg vir ’n gelowige Christen om daaraan deel te hê? Watter Christelik-etiese riglyne is daar in die Bybel ten opsigte van protes?

Nie ’n nuwe vraag nie

Hierdie vrae is nie nuut op die agenda van die Christelike etiek nie. In ’n sekere sin moes die dissipels al daarmee geworstel het. Jesus en sy dissipels het ook gelewe onder die las van politieke onreg. Nog baie meer as in ons tyd vandag, was ongeregtigheid, korrupsie, uitbuiting, armoede en geweld deel van hul daaglikse lewe. Die Romeinse Ryk wat in daardie stadium regeer het, was bekend vir die brutaliteit waarmee hulle mag afgedwing het. Selfs binne die onmiddellike kring van wat ons dalk vandag die “plaaslike regering” sou noem, was daar korrupsie en uitbuiting. Die Joodse Raad of Sanhedrin het die korrupte sisteem van die Romeinse regering gebruik tot hul eie voordeel, selfs die tempeldiens het ontaard in ’n korrupte affêre waar die armes uitgebuit is, mense met swaar wettiese laste geboelie is en ander hulself verryk het (Matt 21: 12-17 en Mark 11: 12-26). Jesus rebelleer self teen hierdie onreg – sy motief is die eer van God.

Die Jode het in Jesus se tyd swaar gely onder die las van die Romeinse Ryk, en in 70 nC het daar wel ’n militêre opstand gekom wat onderdruk is deur die Romeine en waartydens die tempel ook vernietig is. Dit is moontlik dat Jesus se dissipels en baie van sy volgelinge gehoop het dat Hy as ’n tipe politieke leier of koning militêr sou opstaan teen die Romeinse Ryk en hulle sou vernietig. Jesus het egter vir ’n ander stryd opgedaag; Hy is ’n ander soort Koning. Sy stryd was teen die sonde en dood, en sy oorwinning het ewige implikasies. Die dissipels sou egter eers na Jesus se dood en opstanding werklik besef Wie Jesus is en eers na die pinkster en uitstorting van die Heilige Gees vreesloos begin om die evangelie te verkondig.

In ’n sekere sin het massa-aksie ook gelei tot Jesus se kruisiging. Ironies genoeg is dit ’n skare wat Hom juigend ontvang het met die intog in Jerusalem, palmtakke en klere op die grond voor Hom uitgegooi het en Hom die koning genoem het, wat ’n paar dae later skree Kruisig hom! (Mark 15: 13, Luk 23:21 en Joh 19: 6).

Soms onvermydelik om te protesteer

Die eerste opmerking wat ons kan maak, is dat massa-aksie gevaarlik en verkeerd kan wees en dat ’n mens baie versigtig moet wees as jy daaraan wil deelneem. Jy moet seker maak dat jy nie besig is om vir die verkeerde redes en motiewe op te tree nie. Hoekom doen ek wat ek doen? Is daar vir my beter alternatiewe?

Dit is egter ook so dat die gelowige soms deur onreg in ’n posisie kom waar jy nie anders kan nie as om aktief saam met ander te protesteer. Ons sien iets hiervan in Martin Luther se reaksie op die onreg binne die Rooms-Katolieke Kerk van sy tyd. Hy het eers probeer om as individu op te tree en te waarsku teen die onreg met sy 95 stellings. Daarna het hy gevlug vir sy lewe, terwyl hy die Bybel vertaal het sodat mense self kan lees en besluit. Daarna is hy egter gedwing om te staan vir wat hy glo, saam met ander wat ook so glo, en dit het gelei tot die Reformasie wat dalk as die grootste protesaksie in die geskiedenis beskryf kan word. Die naam protestant is dus gepas.

’n Beter vraag sou dalk wees hoe ’n gelowige aan sulke aksies behoort deel te neem. Ons kan nie onreg ontken nie en ons kan ook nie altyd vlug nie; soms moet ons opstaan en protesteer, maar dan geld die algemene reël van Christelik-etiese optrede juis te meer te midde van ons optrede. Liefde vir God en ons naaste bly die norm waaraan ons optrede gemeet word te midde van protes. Doen ons wat ons doen werklik uit liefde vir God en ons naaste, of wil ons onsself daardeur bevoordeel? Vanselfsprekend kan onreg nie met meer onreg beveg word nie. Ons kan nie winkels plunder en skole afbrand omdat ons ongelukkig is oor dienslewering nie. Nee, ons moet die kwaad oorwin met die goeie.

Die normatiewe sentrum vir etiese gedrag is vir ons as gelowiges immers nie gesetel in die individuele persoon of selfs die groep se belange nie, maar in die Persoon en openbaring van Christus. Jesus Christus is die norm, God se liefde in Christus die motivering en die Heilige Gees wat ons deur die Woord lei die Een wat ons leer om binne elke situasie te besluit of ons optrede nie net geoorloof is nie, maar werklik sal strek tot eer van God.

(Dr Hoffman is organiserende sekretaris by die Bybelgenootskap)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=uTTDeZgRbPxx5xOqmq1iwULM4Oq27Ju1MM%2Bt594naLD4co3wlMh6IU50mKnScgt6Cal8ZaET3UVL2bGo%2BhvY%2FA%3D%3D&prvtof=8G4jwlgDHVdTzc3pxtf4d9ROMbwtQVTNj9fwBzZwtlo%3D&poru=tF5q%2FCe6FIxXWA47hmoqLjgQvgmlrQeXOwvycK7h5cTGluTYDTOIZY8CUN%2BOjiyKHtZ0a%2Bf33wFsE18hZZFWTJc5uz%2BE1A76z6qNB6CNa4zbZDbKb%2FJSMB%2BiMtNhHNWFgRiOm%2BYhSs8rc9EKe4Gu7dos4AY%2BB6TjbkfpR0SArlQ%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2F381-n-christelik-etiese-perspektief-op-massa-aksie-en-protes">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>