Die Hervormer

Bakens op die pad van kerkhervorming

Een van die slagspreuke uit die tyd van die Kerkhervorming is ecclesia reformata, semper reformanda. Dit beteken: ’n Hervormde kerk moet altyd weer hervorm. Kerkhervorming is nie ’n lukraak onderneming nie, maar gebeur wanneer die kerk gehoorsaam na die Woord van God luister en op grond van evangeliese beginsels probeer om kerk te wees.

’n Vurk in die pad
Die afgelope 20 jaar het Hervormde predikante en lidmate met toenemende intensiteit oor kerkwees gepraat. Dit het in 1995 begin toe daar die eerste keer sprake was van ’n “vurk in die pad”, toe die eerste dreigemente van kerkskeuring na vore gekom het (wat in 2011 ’n werklikheid geword het). Daarna is die Kerkorde in 1997 aanvaar; die Basispakket vir Gemeentebediening het in 2001 die lig gesien; en in dieselfde jaar het die Algemene Kommissie ’n visie en missie vir die Hervormde Kerk geformuleer: Jesus Christus die enigste hoop vir die wêreld.

Lees verder...

Ik ga niet meer na de kerk en ik geloof niet meer in God

Die Nederlandse koerant Trouw berig in Januarie 2015 dat die aantal ongelowiges besig is om die aantal gelowiges in Nederland in te haal. Steeds minder mense in Nederland antwoord nog volmondig ja op die vraag of hulle in God glo, en steeds minder mense gaan nog kerk toe. Dit blyk uit ’n nuwe ondersoek dat meer Nederlanders intussen “ietsiste” of agnosties geword het.

Vir die eerste keer is dit nou so dat ongelowiges meer is as gelowiges. Net meer as 25% van die bevolking is nou ateïste, terwyl 17% glo aan die bestaan van God. Die res wat so ongeveer 60% is, sit tussen geloof en ongeloof. “Ietsiste” is die mense wat glo dat daar so iets moet wees soos ’n hoër mag of krag. Agnostici sê weer dat hulle nie kan weet of daar ’n God is en of daar wel so iets soos ’n hoër mag bestaan nie.

Lees verder...

Die reg op vryheid van uitdrukking

Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, aldus artikel 16(1) van die Grondwet van Suid-Afrika. Hierdie fundamentele reg, ook bekend as vryheid van spraak of spraakvryheid, hoewel dit ook ander uitdrukkingsvorme soos simbole, kleredrag en kuns insluit, word wyd beskou as die spilpunt waarom ’n grondwetlike demokrasie draai.

Volgens die Grondwethof is die veronderstelde gevolg van die artikel 16-reg ’n meer verdraagsame gemeenskap. Hierdie reg is ongelukkig dikwels die eerste slagoffer van despotisme, tirannie en outokrasie, terwyl die gereelde misbruik daarvan op die eerste tekens van anargie kan dui. Die realiteit is dat die beskerming en toepassing van spraakvryheid onontbeerlik is vir ’n kerngesonde samelewing – in weerwil van die tradisionele aandrang tot die teendeel as sou dit die teosentriese werklikheidsbeskouing van die kerk kon bedreig.

Lees verder...

Vrugbare grond vir dissipelskap

In die kerk word die term bediening dikwels met verskillende noemers gekwalifiseer: gemeentebediening, jeugbediening, gesinsbediening, lewensfasebediening, toegespitste bedieninge... Maar wat is die doelwit van enige bediening?

Die antwoord op hierdie vraag kom daarop neer dat alle mense die liefde en genade van God deur Jesus Christus moet ontdek en met geloof en ’n toegewyde lewe daarop moet antwoord. Mense moet deur geloof in God ’n nuwe identiteit vind wat hul eie identiteit moet oorskadu.

Lees verder...

Die kerk het 'n ekologiese verantwoordelikheid

Die omgewing is nie net ’n bron vir menslike gebruik nie, maar het intrinsieke waarde as deel van God se skepping. God, as die Skeppergod, roep ons tot ’n verantwoordelike verhouding met sy Skepping.

Kerke oor die wêreld heen is besorg oor die wyse waarop lewe binne hierdie verhouding met God se Skepping fundamenteel bedreig word deur ekonomiese ongelykheid en ongeregtigheid, die verbruikerskultuur, gewelddadige konflik in talle vorms en ekologiese vernietiging, asook die wyse waarop hierdie aspekte op mekaar inspeel.

Lees verder...